Die Hermanus FynArts-kunstefees keer van 9 tot 18 Junie terug om die somber winterlandskap op te helder met sy kenmerkende verskeidenheid aanbiedinge.

Hierdie jaar se program sluit oudergewoonte nie net klassieke musiekkonserte, kunsuitstallings, drama, gesprekke en boekbesprekings in nie, maar ook werksessies, wynproeë en sjef-demonstrasies.

Een van die jaarlikse hoogtepunte is die openingskonsert wanneer die begin van nog ‘n FynArts-kunstefees, nou in sy elfde jaar, gevier word. Vanjaar se geleentheid is ook ’n bekendstelling van die ontluikende talent van Suid-Afrika se indrukwekkende jong musici. Die bekende dirigent, Richard Cock, stel die gehoor bekend aan twee jong kunstenaars van die Universiteit van Kaapstad, Pieter Joubert (viool) en Ashlin Grobbelaar (tjello).

Hulle speel Tartini se uitdagende “Devil’s Trill Sonata” vir viool en orkes, ’n tjello-concerto deur CPE Bach en ’n dubbel-concerto deur Vivaldi. Die FynArts-orkes sal hierdie werke komplementeer met die beroemde “Fantasia on Greensleeves” van Vaughan Williams en ’n vroeë simfonie van Mozart. Hierdie inspirerende program sal byval vind by musiekkenners sowel as diegene met ’n wye belangstelling in die kunste.

Na verskeie triomfantelike optredes oor Suid-Afrika heen, is die 10 jong tenore, die Mzansi-tenore weer terug in Hermanus om die FynArts-gehoor te trakteer met hul kenmerkende charisma, energie en talent. Die program sal arias en Suid-Afrikaanse gunstelinge insluit, sowel as treffers wat beroemd gemaak is deur Enrico Caruso, soos “Santa Lucia”, “Granada”, “Ave Maria” en ’n huldeblyk aan Caruso deur Lucio Dalla, ter viering van die 150ste herdenking van hierdie groot kunstenaar se geboortejaar. Moenie hierdie trots-Suid-Afrikaanse produksie misloop nie!

Die Universiteit van Kaapstad Simfoniese Blaasensemble, bestaande uit 45 voor- en nagraadse studente, sluit vanjaar se FynArts-kunstefees af aan die einde van die Jeugdag-langnaweek. Die dirigent, Brandon Phillips, is aan die begin van die jaar aangestel as blaas- en ensembles lektor by die UK. As voormalige artistieke direkteur en dirigent van die Kaapse Filharmoniese Orkes het Brandon die Wes-Kaapse regering se eerbewys vir uitstaande prestasies deur die jeug ontvang.

Vanjaar se FynArts-kunstefees bied feesgangers ook die geleentheid om van nader kennis te maak met verskeie ikone van ons kultuurwêreld, soos die ontvanger van die 2023 se FynArts-rfenistoekenning, Pieter-Dirk Uys. Hierdie geliefde akteur, skrywer, dramaturg, politieke kommentator en sosiale aktivis vermaak gehore al vir meer as 50 jaar met sy unieke sin vir humor en vlymskerp kommentaar op die Suid-Afrikaanse tydsgees. Christopher Hope sal die eerbewys oorhandig en in gesprek wees met Pieter-Dirk oor sy lewe en werk. Pieter-Dirk sal ook op die verhoog wees met sy nuwe eenman-toneelstuk, Sell-by Date. Soos verwag kan word van hierdie veelsydige kunstenaar sal hy ook die rolle vertolk van allerlei aktuele en politieke figure, albei manlik en vroulik. Hy mag reeds 77 jaar oud wees en ’n sell-by-date beteken gewoonlik: gooi weg! Maar van aftrede is daar by Pieter-Dirk geen sprake nie – sy leuse is: “Retread!” Kom lag saam oor ons vrese en vind self uit dat ’n Pieter-Dirk Uys-vertoning altyd ’n hoogtepunt is om te onthou.

Besoek hermanusfynarts.co.za vir die volledige program. Kaartjies kan ook via die webtuiste bespreek word, of by Webtickets, Pick n Pay winkels landwyd, die Hermanus-toerismekantoor of die FynArts-galery in Hermanus. Die programboekie is beskikbaar by verskeie geselekteerde afsetpunte in Kaapstad, Hermanus en die Wynlande. Vir enige navrae, skakel 060 957 5371.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article