Lede van Protea Dienssentrum en Heidehof-inwoners by die outydse fliekvertoning. Links agter is Gerhard van Wyk van die Caledon-biblioteek saam met Hoeda Salaam (departement kultuur en sport) langs hom en Protea Dienssentrum se bestuurder, Marlene Rousseau (heel regs). Die outydse spoelprojektor is agter in die middel duidelik sigbaar.Foto: Mitzi Buys


Die Caledon-biblioteek, in samewerking met die departement kultuur en sport, het Wêreld-teaterdag op 27 Maart gevier deur ’n stilfliek aan bejaardes by die Protea Dienssentrum te vertoon.

Lede van Protea Dienssentrum en inwoners van Heidehof-tehuis vir bejaardes is teruggevoer na die verlede toe die outydse swart-en-wit-stilfliek Harold Lloyd – World of Comedy vertoon is.

Met hedendaagse moderne tegnologie waar almal flieks op televisie of op hul selfone kan kyk, was dit ’n besonderse ervaring om dié outydse fliek, wat deur ’n spoelprojektor vertoon is, te sien.

Dat die bejaardes hulle gate uit by dié vertoning geniet het, was duidelik uit die gelag vir die hoofkarakter se manewales.

Marlene Rousseau, die bestuurder van Protea Dienssentrum asook Gerhard van Wyk van die biblioteek het genoem die seniors het agterna aan hulle gesê die fliek het hulle teruggeneem na toeka se dae.

So reg in die styl van ’n outydse filmvertoning het elkeen ’n sakkie springmielies gekry en koffie en kolwyntjies is tydens die pouse bedien.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article