Tydens die onlangse Suid-Afrikaanse Sport-prysuitdelingsgeselligheid by Sun City se Superbowl het die Caledon-inwoner Errol Tobias, die bekende oud-Springbokrugbyspeler en die eerste Springbok van kleur, ‘n gesogte toekenning vir uitnemendheid in sport ontvang. Die minister van sport, kuns en kultuur, Gayton Mckenzie, het die trofee aan Tobias oorhandig.
Aan huis by Tobias in Caledon vertel hy aan Hermanus Times: “Die erkenning, wat ek en ander sportmanne soos Bruce Fordyce ontvang het, was ‘n groot eer, maar dit was ook ‘n baie nederige oomblik. Om die erkenning te kry terwyl jy nog leef, maak dit soveel meer gesog, want so dikwels moet die vroue of kinders van sportmanne wat reeds oorlede is die toe- kenningstrofee in ontvangs neem. Dit was regtig ‘n pragtige aand.”
By dié geleentheid het Tobias ‘n kopie van sy nuutste boek Suiwer Goud – Die Lig, God Altyd Eerste aan die minister oorhandig. Dié boek, ‘n outobiografie, handel oor sy kinderjare tot die hede. Tobias se eerste boek is getiteld Suiwer Goud en op ‘n vraag van Hermanus Times oor die titel Suiwer Goud – Die Lig antwoord hy: “Met my geboorte, soos my moeder, Emily, dit aan my oorgedra het, was daar net nadat ek gebore is, ‘n lig in die kamer. Dit is ook waarom sy so met my saamgestap het met my rugby. Sy’t altyd gesê iets groots gaan met my gebeur en sy moet my beskerm.”
Tobias vertel hy het ‘n droom gehad waarin hy saam met Naas Botha rugby speel. “Dit was net voordat ek vir Suid-Afrika gekeur is. In die droom vra hulle my om pale toe te skop. Toe die bal oor die pale gaan, reg in die middel, staan die bal stil en ontplof en verander in ‘n groot lig. Ek het my ma daarvan vertel en sy het vir my gesê ek gaan ‘n Springbok word en dat daar ‘n groot lig op my pad gaan kom.”
Tobias se ma het nooit die voorreg gehad om te sien hoe haar seun in 1980 ‘n Springbok word nie – die eerste man van kleur wat dié deurbraak gemaak het – want sy is ‘n skamele drie maande voor dit oorlede.
Gelukwense het op sosiale media ingestroom. “Mense was verheug dat ek die toekenning gekry het en die reaksie is vir my ‘n riem onder die hart; ek bedank hulle daarvoor.”
Op 75 geniet Tobias goeie gesondheid, wat hy aan ‘n gesonde leefstyl toeskryf. “Ek het nooit gerook of gedrink nie, maar eintlik is dit alles net genade.”
• Suiwer Goud – Die Lig is tans in Afrikaans beskikbaar en sal later ook in Engels uitgegee word. Benewens die twee boeke is koffiebekers en T-hemde ook beskikbaar. Tobias het ook ‘n sportmuseum by sy huis wat per afspraak besoek kan word.
Die boeke en handelsware kan direk by Tobias verkry word. Kontak hom by 072 113 9115.






