Skaam-skaam het deelnemer 2240 sy Idols-buiging in Julie gemaak. Met sy wit stewels en bruinerige hemp het hy voor die beoordelaars – die mediapersoonlikheid Somizi Mhlongo, die aktrise Thembi Seete en die kletsrymer JR Bogopa – verskyn en hul harte gesteel.
Envic Booysen het nie net die beoordelaars met sy nederige persoonlikheid nie, maar ook met sy stem, beïndruk. Nadat dié jong man van Grabouw aan hulle verduidelik het dat hy by ’n hoenderplaas in die Elgin-gebied werk, het hulle met hom geskerts, maar toe hulle eers sy stem hoor, het hulle letterlik ’n ander deuntjie gesing: “You have a beautiful voice; an amazing voice – and I get excited when I hear people like you and I see what the future of this competition will look like,” het Somizi laat hoor.

Envic se Idols-reis het vir hom soos ’n droom gevoel wat verwesenlik is. “Ek en een van my beste vriendinne het in graad 8 gesels oor watter beroep ons eendag wil volg. Ek het – sonder om twee keer daaroor te dink – gesê ek wil in die vermaaklikheidswêreld wees,” onthou Envic. “My ma het my altyd my vertel ek moet net goeie goed oor myself uitspreek, en dit is iets wat ek altyd sal onthou. En, soos hulle sê, die proof is in the pudding; dit wat ek uitgespreek het, het waar geword.”
Envic, wat op ’n plaas in die Elgin-vallei grootgeword het, het van kleins af aan sangkompetisies deelgeneem en is op sy gelukkigste as hy op die verhoog kan wees. “Ek wou nog altyd aan Idols deelgeneem het, want dit is ’n platform wat jy kan gebruik om naam te maak. Ek is so dankbaar dat ek so ver gevorder het. Elke keer as ek voor die gehoor en beoordelaars opgetree het, was dit vir my ’n belewenis.”
Envic het tot by die laaste ses deurgedring en al was dit vir hom teleurstellend dat hy uitgestem is, het hierdie ondervinding baie deure vir hom oopgemaak. “Verlede jaar hierdie tyd kon ek my nie indink dat ek voor ’n gehoor sou optree nie, wat nog van op die televisie. Met elke oudisie het ek iets geleer en dit deel van my gemaak. My hoogtepunt was toe ek in episode 8 ‘This is a man’s world’ gesing het. Ek het alles tydens daardie performance gegee en myself gate uit geniet. Dit is waaroor performance vir my gaan – jy kan jouself wees.”
Maar, soos hy dit duidelik stel, het hy nie sy wortels vergeet nie en is hy ewig dankbaar dat Grabouw se inwoners bankvas agter hom gestaan het. “Al het ek uitgeval, is die support wat ek van Grabouw gekry het, onvergeetlik. Toe ek eendag op Facebook sien, het selfs die Spar in Grabouw op hul pryse gesit ‘Vote for Envic’ en ek het trane in my oë gekry en geweet dis my hometown; dis net daar waar so iets sal gebeur.”
Envic, wat steeds in Johannesburg is vir die laaste opnames en die slot-episode van Idols, waar hulle gaan optree, verlang nou huis toe.
“Ek kan nie wag om huis toe te kom en by my mense te wees nie. Ek wil vir elke Grabouwer dankie sê vir dit wat julle vir my beteken het, en vir jul ondersteuning. Sonder julle sou ek dit nie so ver kon gemaak het nie.”
Al is sy Idols-reis verby, sien hy uit na wat die toekoms vir hom inhou. “Idols het baie deure vir my oopgemaak; ek is baie dankbaar vir die geleentheid. Ek het van jongs af my eie liedjies geskryf en kan nie wag om dit nou aan die wêreld bekend te stel nie. Ek wil my talente verder vat en glo dat dié droom ook ’n werklikheid gaan word.”
Envic kyk veral op na die Afrikaanse sanger Corlea Botha en die Amerikaanse sanger Tevin Campbell. “Corlea se stem is uniek en suiwer en ek was in die bevoorregte posisie waar ek ’n rehearsal saam met Tevin kon beleef. Ek het langs hom gesit, en om te sien hoe hy voorberei, was great – definitief een van die hoogtepunte van my lewe.”
Net soos die oud-Grabouwer Karin Kortje, wat die wenner van die derde seisoen van Idols was, gaan nog baie van Envic gehoor word. Die Idols-Facebookblad het ná elke optrede van hom behoorlik gegons en party aanhangers het hom nie net as hul gunsteling-deelnemer gebrandmerk nie, maar ook gesê hy en sy jazz-stem gaan nog baie ver kom. “Ek het elke liedjie wat ek in die kompetisie gesing het, my eie gemaak en elke optrede geniet. Ek glo ek sal my talente kan uitleef en Suid-Afrika deur my optrede ’n beter plek maak.”



