Tashwell van der Rheede, wat saam met Ashley October teregstaan weens die moord op October se gewese vrou, Charlene October, het verlede week die getuiebank ingeneem om sy weergawe te gee van die aand toe dié ma van vier se lewe kortgeknip is.
Charlene se suster, Alexa Jooste, sê om sy getuienis aan te hoor, was traumaties.
“My suster se laaste ure, laaste woorde, laaste asemteug . . . dit is waarvan ons nou moet hoor. Ons besef dis die enigste weergawe wat ons ooit sal kry.”
Van der Rheede en October is van die moord op Charlene, huisbraak met die doel om te roof en moord te pleeg, roof met verswarende omstandighede en regsverydeling aangekla.
October staar ook twee aanklagte van opsweping tot moord en sameswering tot moord en roof in die gesig. Dit hou verband met voorvalle in 2011 en 2012 toe hy na bewering twee ander mans – Ashley Kerr en Reagan Zietsman – genader het om Charlene te vermoor.
Charlene se liggaam is in Julie 2021 deur haar oudste seun, Ethan Telemachus, in haar huis in Proteastraat, Elim, gevind.
Haar kleindogter, wat in daardie stadium net ’n maand oud was en wat Charlene vir die aand opgepas het, was ongedeerd.Bewyse
October se advokaat, Dorian van Zyl, het verlede Donderdag ’n aansoek om ontslag voor die hof gebring om te versoek dat hy onskuldig bevind en ontslaan moet word. Volgens Van Zyl het hulle die aansoek gebring omdat hulle oortuig is die staat het onvoldoende bewyse om sy kliënt se skuldigbevinding te verseker.
Die aanloop tot dié aansoek, sê Jooste, was senutergend. “Ons het nie geweet hoe om te voel nie; dit was ’n hele paar dae se gewonder – nie oor of dit toegestaan gaan word nie, maar oor ons onvermoë om die versoek tot die aansoek te aanvaar en te verstaan. Die vermetelheid daarvan! Toe dit afgekeur word, het een vrou in die galery ons aangegluur asof óns dit afgekeur het; asof óns dit teengestaan het; asof óns iets aan hul familielid gedoen het. Dis reeds so erg om deur dit alles te sit, en dan nog dít ook.”
Regter Rosheni Allie het die aansoek afgekeur.
Hieroor het Jooste gesê: “Een klein oorwinning, maar die seer bly. Ons is ewig dankbaar teenoor ons Hemelse Vader en ook adv. Leon Snyman (die aanklaer), wat nie vir enigiets agteruitstaan nie.”
Die saak het Maandag voortgegaan met Van der Rheede wat verder getuig het.




