’n Skermgreep van Cobus van den Berg se plasing op Facebook na aanleiding van Saterdagaand se voorval.


’n Bekende inwoner van Kleinmond vertel hy het ’n naelskraapse ontkoming gehad toe hy Saterdagaand stilgehou het by wat vir hom soos ’n padblokkade gelyk het.

Cobus van den Berg, die bekende en bekroonde vervaardiger van televisiereekse soos Trackers en die fliek Griekwastad, vertel hy was op pad huis toe van ’n troue in Grabouw toe hy van ver af reeds helder blou, wit en rooi ligte gewaar het.

“Toe ek stop, het ek besef dis nie ’n roetine-padblokkade nie, want niemand het my rybewys gevra nie,” vertel hy.

Hy het toe gesien hoe ’n polisievoertuig wat in die pad gestaan het, wegtrek sodat hy vermoedelik kon deur ry. Hy het gehoor iemand skree hy moet ry.

“Dit was asof ’n stemmetjie vir my gesê het ‘moenie’, want die volgende oomblik het ’n motor wat in die teenoorgestelde rigting gery het, deur die gaping gebars en my voertuig getref,” vertel Van den Berg.

“As ek moes gery het, was dit beslis ’n botsing reg van voor en ek en my vrou kon dood gewees het. Ek neem aan die ander motor kon nie betyds stop nie en het net deur die gaping gery. Dit was ’n baie traumatiese ervaring en ek was rattled.”

Gelukkig was die skade aan sy veteraanmotor nie ernstig nie en hy kon sonder verdere voorval huis toe ry. Die ander voertuig, sê Van der Berg, het ook net verder gery.

Volgens Van den Berg het hy die volgende dag Kleinmond-polisie se stasiebevelvoerder, kol. Anna May, gekontak. Dié gesprek, sê hy, het ’n effens wrang smaak in sy mond gelos.

“Sy het gesê dit was ’n noodsituasie en verkeerslui was nie aan diens nie. Sy was meer bekommerd oor die polisie se beeld,” sê Cobus, “en het gesê ek moes haar liewer kom spreek het as om dit op sosiale media te sit.

“My doel is nie om die polisie sleg te maak nie. Die punt is dit kon erger gewees het. Ek wou net hê sy moet bedag wees. Die polisie kon motoriste ver van die toneel af gestop het sonder om paniek te saai met die klomp ligte.”

May het bevestig dat daar geen padblokkade was nie, maar dat beamptes op die toneel was om reddingswerkers by te staan wat besig was om ’n boom wat in die pad geval het, te verwyder.

“Die beamptes het opgetree om ongelukke te voorkom as gevolg van die boom wat oor die pad geval het,” het May gesê. Sy het ook bevestig dat Van den Berg se voertuig nie deur ’n polisievoertuig getref is nie.

Op ’n versoek om kommentaar oor Van den Berg se stelling op Facebook dat die polisie “onverantwoordelik teenoor padgebruikers” was, was May se antwoord: “Ek kan nie daarop antwoord nie omdat dit nie slegs die polisie op die toneel was nie, maar ook wetstoepassers.”

Volgens May is niks ná die voorval aangemeld nie.

Van den Berg sê hy oorweeg dit nie om enige stappe teen die polisie te neem nie, “want dit sal ’n mors van tyd wees”.

“Ek het 20 vintage motors en het versekering. Die kolonel het gesê sy sal dit verder vat, maar ek verwag nie veel nie.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article