Wyle Berodine Boyce (16)Foto: verskaf


Die moord op die 16-jarige Berodine Boyce van Laingville, St. Helenabaai, is steeds onopgelos nadat die aanklagte teen die enigste verdagtes in die saak verlede week in die Wes-Kaapse hooggeregshof teruggetrek is.

Die drie beskuldigdes van Laingville – Elroy Galant, Sheldon Christians en Duran Snyders – het Vrydag weer voor regter Robert Henney in verband met die moord in Julie 2018 verskyn.

Volgens Eric Ntabazalila, woordvoerder vir die Nasionale Vervolgingsgesag, is bevind dat die staat nie voldoende bewyse het om die beskuldigdes enigsins met die moord te verbind nie.

Boyce het op 6 Julie 2018 weggeraak en haar modderbesmeerde lyk is op 12 Julie in ’n vlak graf langs die krieketveld gekry. Volgens kapt. Tania Helfrich, die polisiewoordvoerder vir die Weskus-distrik, was haar T-hemp oor haar kop getrek en die res van haar klere onder haar in die graf gegooi. Die lykskouing het bevind sy is met ’n stomp voorwerp oor die kop geslaan en haar keel gesny. Hoewel die lykskouing nie die moontlikheid van seksuele aanranding uitgesluit het nie, kon die bevindings dit nie bevestig nie.

Ntabazalila het voorts gesê die beskuldigdes is vrygespreek ingevolge artikel 174 van die Strafproseswet (Wet 51 van 1977) wat die reg van ’n beskuldigde insluit om vrygespreek te word van die misdryf wat hy na bewering gepleeg het, waar, aan die einde van die staat se saak, geen bewyse is waarop die hof die beskuldigde skuldig kan bevind nie.

Die beskuldigdes is dus vrygespreek van ontvoering, moord en moontlike seksuele aanranding.

News24 berig voorts dat Henney die getuienis as “flou” beskryf het. Hy het gesê die ondersoekbeampte het sy bes probeer, maar die bewyse is onvoldoende.

Die beskuldigdes was vir amper vyf jaar in aanhouding.

Galant en Christians het verlede Donderdagaand al by die huis geslaap, maar Snyders is terug tronk toe om sy vonnis van 22 jaar vir die moord op sy neef, Danville (Witkat) Don, uit te dien.

Weslander het in 2020 berig dat Snyders in ’n pleit- en vonnisooreenkoms erken het hy het Don op 15 Julie 2018 met ’n mes in die nek gesteek en gesny. Snyders het gesê hy het Don vermoor omdat hy hom voor ander mense verkleineer het. Snyders is in Februarie 2020 ’n vonnis van 22 jaar in die Vredenburg-streekhof weens sy erkenning van dié moord opgelê.

Volgens Thyrone Williams, ’n raadslid by die Saldanhabaai-munisipaliteit (SBM) en woordvoerder namens Boyce se familie, wag hulle nog vir amptelike terugvoer van die Nasionale Vervolgingsgesag voordat hulle kommentaar kan lewer.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article