Doney Filies in aksie. Rugbyliefhebbers in Suid-Afrika en die wêreld gaan nog baie van hierdie jong meisie-rugbyspeler van Grabouw hoor.


Die 17-jarige Doney Filies van Grabouw het haar staal so stil-stil op die rugbyveld gewys en die kollig gehaal nadat sy gekies is vir die Springbok-7’s-vrouespan se oefenkamp, wat verlede week in Stellenbosch bymekaargekom het.

Praat jy met Doney is dit haar nederigheid en goeie maniere wat jou eerste opval. Sy groet met ’n “goeie môre, Tannie”, en ’n “baie dankie vir Tannie se moeite”.

Doney is vanjaar ’n matriekleerder aan Groenberg Sekondêr in Grabouw en nes Davlon Blood, Michail Damon en Carlton Banies, wat almal ook van Grabouw is en in rugby uitstyg, is Doney ook die dorp se trots.

Met die aankondiging dat Doney in die oefengroep ingesluit is, het die gelukwensinge op sosiale media ingestroom.

“Ek het die eerste keer by my ma gehoor ek is in die oefengroep ingesluit. Hulle het haar gebel. Ek was uit die veld geslaan en kon dit nie glo nie. Dit was seker die beste nuus wat ek nog gehoor het,” sê sy, en voeg by die oefenkamp was “baie lekker” en sy het baie geleer.

SA Rugby se hoëprestasie-bestuurder vir vrouerugby, Lynne Cantwell, sê hulle het op die oefenkamp besluit om te kyk na diepte in die nasionale span. “Ons beplan nog so twee of drie oefenkampe in die volgende ses maande. Dit is belangrik om jong talent te identifiseer en hulle sodoende te ontwikkel,” het Lynne gesê.

Doney speel op die oomblik skrumskakel vir Boland se o.18-vrouespan en sien uit na die nuwe uitdaging. Haar sporttalent ken geen perke nie en sy is ook al verskeie kere as die speler van die wedstryd en speler van die toernooi aangewys. “Ek het ook atletiek gedoen, maar besluit om op rugby te fokus. Ek hou baie van die sport en mis ook nie ’n game as ons twee klubspanne, Grabouw en Safcol, in Grabouw speel nie. Dit is vir my so lekker om te sien hoe ons plaaslike spanne teen die res vaar en ek leer nogal baie,” vertel sy.

Sy sê sy is van plan om ná matriek aan te hou met rugby en hoop om eendag vir die Springbokke uit te draf. “Ek wil ook verder gaan studeer en wil graag in toerisme ingaan aangesien dit ook my gunstelingvak op skool is. Ek oorweeg ook sportbestuur,” sê sy.. Enigiemand wat Doney graag wil borg, kan haar pa, Deone, gerus by 063 371 2667 bel.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article