As een van die inwoners van Genadendal presteer, juig die hele dorp.

So ook het die dorp saam gejuig toe een van hul inwoners bo sy omstandighede uitgestyg en sy mediese graad aan die Universiteit Stellenbosch behaal het.

Met navorsing wat in 2022 gedoen is, is bevind Suid-Afrika het net 0,8 dokters vir elke 1 000 pasiënte, en dit is een van die redes waarom die 24-jarige Luke Alexander Wessels besluit het om medies te gaan studeer.

Maar, soos hy vertel, sou hy dit nie kon regkry sonder die beurs wat Klipheuwel Wind Farm hom aangebied het nie.

“Ek het altyd die passie gehad om mense te help, en namate ek ouer geword het, het ek besluit om medies te gaan studeer. My passie om ander te help, het in Genadendal begin. Ek het grootgeword omring met diere, en as een van daardie diere siek geword het, het ek my pa altyd gehelp om hulle te versorg,” vertel Luke, wat deesdae in KwaZulu-Natal woon waar hy sy internskap in Pietermaritzburg doen.

Al werk hy deesdae in KwaZulu-Natal, lê sy tuisdorp hom na aan die hart en beplan hy om uitreik-klinieke in en rondom Genadendal op die been te bring, aangesien Genadendal net een kliniek het.

“Ek sal daarvan hou om my horisonne te verbreed en tot diens van die mense te wees. Ek wil ook graag terugploeg in my gemeenskap waar ek grootgeword het. Ek wil die jeug ophef deur praatjies te lewer oor al die geleenthede wat in Suid-Afrika beskikbaar is,” het Luke gesê.

Vir Luke was die geleentheid wat Klipheuwel Wind Farm hom gebied het, iets wat nie net sy drome waar laat word het nie, maar ook sy gesin gehelp het.

“Die beurs het dit vir my moontlik gemaak om my loopbaan skoon te begin sonder om ’n lening af te betaal. Dit het ook beteken dat my familie my broer kon ondersteun, wat dieselfde tyd as ek begin studeer het,” sê hy.

Luke is een van die meer as 30 studente in die Overberg wat baatgevind het by die beurse wat Klipheuwel Wind Farm vanaf 2016 bekendgestel het.

Nog twee studente van Hawston en Botrivier studeer tans medies aan die Universiteit Stellenbosch.

Volgens Nonini Makhothe, ekonomiese ontwikkelingspesialis van die Klipheuwel Wind Farm, dek die beurse nie net die studiegeld nie, maar ook vervoer, behuising en boeke. “Ons bied beurse aan vir leerders van Genadendal, Caledon, Grabouw, Hawston, Botrivier en Hermanus.” het sy gesê.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article