Agter elke suksesvolle man is daar gewoonlik ’n ystervrou wat al die ysters in die vuur moet hou. En so is dit ook met die Hermanus-Kalfiefees.

Dié suksesvolle fees, wat in 2001 die eerste keer in Onrus die lig gesien het, het ontstaan as gevolg van ’n klomp taal- en kunsliefhebbers wat na afloop van die Walvisfees besef het dié fees is net op Engelssprekendes gerig.

Anna Spaarwater, wat 18 jaar ’n komiteelid van die Hermanus-Kalfiefees was, vertel dat die Kalfiefees die geesteskind van Niel le Roux en Cas van Rensburg is. “Die Kalfiefees vervul ’n belangrike rol hierdie kant van die berg. Ons is ’n kunstefees met professionele opvoerings. Bekende akteurs soos Sandra Prinsloo, Frank Opperman, Marion Holm, Margit Meyer-Rödenbeck, Laurika Rauch, Theuns Jordaan en vele meer het al hier opgetree . . . daar is te veel om op te noem,” het Spaarwater gesê.

Die fees het ook verlede jaar ’n nuwe logo gekry met die kunstenaar Kseniia Nel van die Oekraïne, wat die mooi walvis en kalf ontwerp het. Die Kalfiefees is geregistreer as ’n organisasie sonder winsbejag wat ook gereeld na die Herma­nus-gemeenskap uitreik. Volgens die feesdirekteur, Hester Finberg, dra die Kalfiefees ook by tot die welstand van die omgewing. “Die missie van die Kalfiefees is om die Suid-Afrikaanse kunstalent te vier deur verskillende produksies na die fees te bring asook om kreatiwiteit in die gemeenskap te bevorder. Dit is vir ons ook belangrik om ’n unieke kulturele ervaring aan feesgangers te bied,” vertel Finberg. Volgens Finberg lewer die fees nie net ’n bydrae tot die ekonomiese groei van die dorp nie, maar is hulle ook baie betrokke by liefdadigheid. “Mense van oor die land heen kom na die Kalfiefees en slaap oor in gastehuise en gaan eet by die talle restaurante in en om Hermanus. Die Kalfiefees is gewis ’n finansiële inspuiting vir die dorp. “Verder deel ons ook rugsakke en skryfbehoeftes uit vir die minderbevoorregte kinders in die omgewing en is ons ook nou betrokke by die bevordering van kuns en kultuur in skole. Die Cave Theatre by die Ou Hawe-museum is ’n plek waar jong akteurs hul kunstalente kan ontwikkel en in 2023 het ons die inisiatief ondersteun. Vanjaar gaan van die wins uit kaartjieverkope vir die opheffing en ontwikkeling van jong talent in ons dorp. Dit is ook die eerste jaar waar ons produksies na Hawston en Waldorf-skool neem sodat almal toegang tot die fees kan hê,” het Finberg gesê.

“Een van die hoogtepunte van ons gemeenskapsprojekte is dat ons dit vir plaaslike studente moontlik gemaak het om in professionele vertonings op te tree. Leerders van die Hoërskool Hermanus het aan die skool se eie produksie, Skroot, deelgeneem en die Let us tell you . . .-produksie het plaaslike kinders ingesluit.”

Sy nooi almal om die Kalfiefees-Facebookblad te besoek vir die feesprogram asook nuus oor die fees.. Kaartjies is by Tixsa die Kalfiefees-kantoor by die De Wet-saal en die munisipale biblioteek beskikbaar.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article