Die Gansbaai-gemeenskap en veral die Blompark-inwoners is geruk ná nog ‘n moord wat die afgelope naweek in hierdie eens vreedsame buurt plaasgevind het.
Volgens die gemeenskapsaktivis John Jacobs is die tiener Romeo Olyn Sondag in die vroeë oggendure met ‘n mesdood- gesteek. Die verdagte het gister in die Hermanus-landdroshof verskyn.
“Daar is soveel gerugte wat die ronde doen en onmin in ons buurt saai. Wat ek weet, is dat die verdagte glo gereeld deur die seuns geterg is en dat hy Sondagoggend na bewering ‘n mes gaan haal en Olyn glo doodgesteek het,” het Jacobs gesê.
Hy het ook bygevoeg dat die verdagte homself aan die polisie oorgegee het. “Die verdagte is ‘n bekende in die buurt en al was hy voorheen in die tronk, het hy uit sy pad uit gegaan om nie moei- likheid te maak nie en het geleer uit die verlede,” aldus Jacobs.
Die Gansbaai-polisie het ook bevestig dat die verdagte, nadat die polisie op die toneel verskyn het, homself oorgegee het. Dit is ook bevestig dat Romeo verlangse familie is van die 34-jarige Eben Olyn wat Saterdag 19 April voor sy huis doodgesteek is.
Dit is die derde sinlose moord in Blompark sedert Maart vanjaar. “Die feit dat mense, en veral jong mense in ons buurt afgemaai word, beteken dat ons kinders nie meer op straat kan speel of vrylik in die buurt kan rondloop nie,” het Jacobs gesê.
Die eerste moord was dié van Ricardo Tobias in Maart. Tobias se verminkte liggaam is die oggend van 24 Maart op die hoek van Bloulelie- en Angelierstraat in Blompark, Gansbaai, ontdek. Volgens berigte het hy verskeie steek- wonde gehad en ‘n groot sementblok is op sy kop gegooi. Twee jong mans van 18 en 21 jaar het Vrydag 19 September in die Hermanus-landdroshof verskyn vir ‘n borgtogaansoek. Die saak is uitgestel tot 3 Oktober.
In die tweede voorval is die 34-jarige Eben Olyn Saterdag 19 April voor sy huis doodgeskiet. Volgens kennisse van Olyn was hy ‘n vredeliewende mens wat nie by bendes betrokke was nie. (Hermanus Times, 23 April: “Enough is Enough”)
Gerugte het ook die ronde gedoen dat Olyn ‘n staatsgetuie is in die saak waarin agt verdagtes aangekla is vir die moord op Cameron Padayachee, ook van Blompark wat in Desember 2021 doodgeskiet is.
Volgens Jacobs het die Blompark-inwoners op 30 September vergader oor die behuisingskwessie, en gaan hulle vooraf ook ‘n vergadering oor die veiligheid van die buurt hou. “Ons het ‘n buurtwag, maar dit funksioneer nie goed nie en ons gaan dit bespreek,” het hy afgesluit.





