Die leerders het vinnig ‘n handjie bygesit om die swewer uit die boom te red.


Die Hoërskool Hermanus se onderwysers en leerders het bewys presies wat in hulle steek toe hulle verlede week tot ’n leerling-valskermswewer, wat ongeveer 15 m bo die grond in die takke van ’n hoë boom vasgesit het, se redding gekom het.

Die skoolhoof, Mike Smuts, vertel dit was tweede pouse toe die drama in een van die hoë bloekombome in die parkeerterrein oorkant die skool se rugbyveld afgespeel het.

“My eerste gedagte was ‘die ou moet uit die boom klim’, maar toe ek sien hoe hoog hy hang, het ek besef die situasie is baie ernstig,” vertel Smuts. “Die takke was maar dun, en as hy sou val, sou dit hom nie eintlik gekeer het nie.”

Die atmosfeer, sê Smuts, was een van opwinding sowel as vrees. Die plaaslike reddingsdienste is ontbied, maar hul leer was nie lank genoeg om die valskermswewer te bereik nie.

Die onderwysers Mavis de Villiers, Deon Kuhn, Jacques Mangiagalli en Dayne Nel het egter reggestaan om te verseker dat als glad verloop terwyl hul kollega Gita Schulenberg, wat ’n noodhulpbeampte is, ook bygestaan het.

“Ek is baie trots op my personeel, wat die kinders gestuur het om die hoogspringmatte te gaan haal om ’n sagte landing te verseker. Ek is net so trots op die leerders, wat sonder om vrae te vra, geluister het,” het Smuts gesê.

Van dié leerders, sê Smuts, is nie jou tipiese “model-leerders” nie, maar het dadelik ingespring om te help.

Hulle het die dik hoogspringmatte onder die leiding van die onderwysers en nooddienspersoneel styf om die boom gepak om die valskermswewer se val te help demp.

Die leerders, sê Smuts, was nie te gelukkig toe hulle na hul klasse moes terugkeer toe die klok lui nie. “Ons het nie geweet hoe dinge gaan afspeel nie en wou nie hê die kinders moet dit aanskou as iets dalk sou skeefloop nie,” verduidelik hy.

Smuts en van die onderwysers het egter agtergebly om te kyk wat gebeur.

“Dit was seker vyf of 10 minute later toe die ou uit die boom geval het. Hy het allerhande interessante woorde gesê, maar toe ek dit hoor, het ek geweet hy gaan oukei wees,” vertel hy.

Hulle het later gehoor die valskermswewer het net ’n gekraakte rib sowel as talle skraap- en skaafmerke opgedoen en moes ’n paar steke aan sy een vinger kry.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article