Drie dapper mans van Kleinmond het, sonder om aan hul eie veiligheid te dink, in die see gespring om drie mense, wat in die water by die Kleinmond-hawe in die nood was, te red.
Renaldo Arthur het Sondag (16 April) omstreeks 14:05 onder die bome in die hawe gesit toe hy ’n geskree hoor. Die gille, het hy ontdek, het gekom van drie mense wat ongeveer 70 meter van hom af naby die hawemuur in die see in die moeilikheid was.
In sy haas om die mense te bereik het dié dapper man sy knie beseer.
Schalk Boonzaaier, die bevelvoerder van Kleinmond NSRI, sê twee vroue en ’n man het in die moeilikheid beland. “Die man het een van die vroue probeer red, maar was onsuksesvol en moes terugswem en aan die hawemuur vasklou. Die vrou wat hy probeer red het, het daarin geslaag om veilig aan wal te kom,” sê Boonzaaier.
Die derde persoon was egter nie so gelukkig nie en haar kop het telkemale onder die water verdwyn.
Volgens Boonzaaier het die held, genaamd Renaldo, in die water gespring om tot die vrou se redding oor te gaan. ’n Tweede man, wat net as Dustin geïdentifiseer is, het ook in die water gespring om te help.
“Renaldo het die vrou bereik en haar bo die water gelig, maar in haar angsbevange toestand het sy hom styf om die nek gegryp en sy tande uitgeslaan,” het Boonzaaier verduidelik.
Marthinus Pietersen (Rowe), ’n beampte van die Overstrand-munisipaliteit se parke-afdeling in die Hangklip-Kleinmond-administrasie, was ook op daardie tydstip in die hawe. Volgens Rowe, wat al sedert 2004 vir die munisipaliteit werk, het hy gesien hoe vyf mense “selfies” geneem het voordat drie van hulle in die water beland het.
Rowe het gesien hoe Renaldo en Dustin probeer en self hulp benodig het, en het toe die NSRI se pienk reddingsboei in hulle rigting gegooi.
Renaldo en Dustin het daarin geslaag om die vrou te kry om aan die reddingsboei vas te hou terwyl Rowe die tou gebruik het om dit nader aan die veiligheid van die hawemuur te trek en haar uit die water te kry.
Die NSRI-Kleinmond-span het op die toneel opgedaag nadat adjudant-offisier Appollis van die plaaslike polisie alarm gemaak het.
“Die NSRI-span het noodhulp toegepas en ’n ambulans is ontbied,” het Boonzaaier berig.
Rowe sê dit was nie die eerste keer dat hy “op die regte tyd op die regte plek” was om iemand, wat besig was om te verdrink, te red nie.
Hy het mense waarsku om altyd bewus te wees van die gevaar wat onvoorspelbare branders inhou en nooit die rug op die see te draai nie.
“Onthou, ongelukke kan enige tyd gebeur.”
In noodgevalle kan jy die NSRI by 112 van jou selfoon af kontak. Die NSRI Kleinmond se nommer is 063 699 2765, NSRI Hermanus kan by 082 990 5967 en NSRI Agulhas by 082 990 5952 gekontak word.
Beeldmateriaal van die dramatiese reddingspoging is te sien by: https://flic.kr/s/aHBqjAAuPz




