Die goeie reën wat oor die afgelope twee maande oor die Overberg geval het, het nie net verligting vir die boere gebring nie, maar ook vir die res van die inwoners.
Damme is tot oorlopens toe vol en almal is dit eens dat dit baie goeie nuus is.
“As ons terugdink aan 2017 toe ons amper ‘Dag Zero’, waarop die krane sou leegloop, moes beleef, verwelkom ek die reën,” het ’n inwoner onlangs op Facebook gesê nadat hy ’n sloertoer deur die Overberg geneem en gesien het hoe vol die damme is.
Volgens hom is dit ’n mooi gesig om die damme só vol te sien en is dit veral Theewaterskloofdam en die De Bosdam wat prentjiemooi is.
In die Wes-Kaap staan damme se gemiddelde watervlak op 104%, maar die Wes-Kaapse regering waarsku inwoners om steeds spaarsamig met water te werk aangesien die einde van die reënseisoen aan die kom is en tydens die Desembervakansie is daar ’n toestroming van vakansiegangers wat ook ekstra druk op Wes-Kaapse damvlakke gaan plaas.
Teen druktyd was die damvlakke in die Overberg soos volg:. Buffelsrivier (109%);. De Bosdam (101%);. Kraaiboschdam (106%);. Pearly Beach-dam (75%);. Koekemoerdam by Pearly Beach (100%);. Theewaterskloofdam (103,9%);. Eikenhofdam (97,3%).




