Die Dameskring Caledon, ’n Christelike organisasie vir Afrikaanssprekende vroue, wat een keer per maand vergader om sake te bespreek (soos die verfraaiingsprojek by Heidehof-tehuis vir bejaardes waarmee hulle tans besig is) nooi gereeld gassprekers om hulle toe te spreek.
Fana de Wet, die voorsitter van die Dameskring Caledon, sê: “Ons tema hierdie jaar is ‘Ligvoets Veerkragtig’ en ons program vir die jaar is geskoei op vier bene, naamlik onderwys, taal, godsdiens en kultuur, en dan bou ons ons praatjies daarom en nooi interessante gassprekers.”
Lampie Fick, ’n bekende afgetrede boer van Caledon en ’n oudparlementslid, was die gasspreker tydens Woensdag 12 April se byeenkoms. Fick het ’n baie interessante en goed nagevorste praatjie gelewer, wat hoofsaaklik oor verandering gehandel het. “Die groot drywer vir verandering is groei. Die ekonomie moet groei om werk te skep vir groeiende bevolkings wêreldwyd.”
Fick het ook insiggewende voorbeelde uit Alvin Toffler se boek Future Shock, waarin hy skryf oor die invloed van veranderinge op mense en gemeenskappe, aangehaal. Hy noem ook: “Die grootste ekonomiese verskynsel van die volgende 30 jaar sal die inligtingsbedryf wees. In ’n omgewing soos Caledon sal die ekonomiese bruikbaarheid van mense waarskynlik met 30% verminder omdat die ‘required level of high ability’ van die inligtings-eeu dit sal bepaal.”
Ter afsluiting het Fick gesê: “Al is die spoed en omvang van verandering in ons omgewing hoe super-normaal, is daar grondbeginsels wat nooit verander nie. Om in die toekoms te slaag, sal ons kinders ook moet weet dat die wette van die ‘Groot Boek’ permanent is – net so onveranderlik soos die wet van swaartekrag.”





