Caledon se bekende oud-Springbokrugby-speler Errol Tobias het onlangs ’n eretoekenning van DAK Netwerk ontvang vir sy lewensbydrae tot bevordering van sporttransformasie in Suid-Afrika.
Volgens Danie van Wyk, uitvoerende voorsitter van DAK Netwerk, beywer DAK Netwerk hom vir die bemagtiging en ontwikkeling van agtergestelde Afrikaanse gemeenskappe.
Tobias vertel aan Hermanus Times: “Toe ek, Chester Williams en ons gades jare gelede ’n uitnodiging gekry het vir ’n privaat ete saam met Nelson Mandela in sy ampswoning Genadendal, het hy aan ons genoem: ‘Weet julle, daar is so baie mense wat baanbrekerswerk gedoen het, maar wie se goeie werk en name nooit neergepen gaan word nie’ en DAK het dit nou hulle taak gemaak om daardie mense terug te bring.
“Van hulle het al heengegaan,” sê Tobias, “maar hulle kinders en kleinkinders word dan ingebring om hierdie toekennings te ontvang.
“DAK-toekennings is nie net vir sport nie, maar dek ’n wye kulturele spektrum. Dit is ’n fantastiese inisiatief wat hulle aan die dag lê en ek het ook my seënwense aan hulle daaroor uitgespreek, want ons land het dit so nodig.”
Tobias het ook onlangs ’n spesiale 2023-rugbywêreldbeker-T-hemp bekendgestel.
Hy sê: “Die rede is om ons Springbokke hierdie keer heeltemal te ondersteun. Hier is so baie Suid-Afrikaners wat die All Blacks ondersteun en ek wil graag hulle gedagtes en koppe so bietjie swaai.
“Indien ons dit nou kan herverower sal ons die eerste land wees wat die Wêreldbeker twee keer na mekaar kon wen. Ek het gevoel dat die hemde ’n waardevolle stukkie gereedskap sal wees om momentum te kry in hierdie aanslag.”
Aangesien dit Jeugmaand is, het Hermanus Times aan Tobias gevra watter boodskap hy vir die jeug van vandag het, spesifiek met betrekking tot sport. “Die vraag oor wat ek wil agterlaat word dikwels aan my gestel. Op die tydstip toe ek Springbok geword het, was my motief om hoop agter te laat en ek wil graag by veral arm kinders hoop vestig. I want to be recognised as someone that was different … a new flavour of hope. Sport is ’n geweldige opvoeder en ’n brugbouer. ’n Opvoeder vir kinders maar ook ’n brugbouer vir nasies.”
Om ’n T-hemp te bestel, bel vir Tobias by 072 113 9115.





