Dit het maar beroerd gegaan – inwoners se kos in ys- en vrieskaste het gevrot, mense wat afhanklik is van suurstofmasjiene het swaargekry en dan het die erge koue ook nog die situasie verder vererger.

Botrivier-inwoners het verlede week met hul hande in die hare gesit toe hul kragtoevoer dae lank weens vandalisme afgesny is en hulle later fase 1-elektrisiteitstoevoer gehad het.

Inwoners het van 23 Junie van 08:00 af tot Woensdag (28 Junie) sonder elektrisiteit gesit en party het selfs langer gewag totdat die kragtoevoer uiteindelik herstel is.

Die Theewaterskloof-munisipaliteit het op 26 Junie ’n skrywe uitgereik dat hy bewus is van die inwoners se frustrasie rakende die verlengde kragonderbreking in Botrivier en hulle verseker dat hy alles in sy vermoë doen om so gou as moontlik krag na die omgewing te herstel.

“Ons kan bevestig tegnici was vanoggend (26 Junie) op die perseel en hulle het gesê die krag sal heel moontlik vandag herstel word. Maar alle pogings om Eskom-amptenare te kontak, was van 12:00 af onsuksesvol,” het Wilfred Solomons-Johannes, die waarnemende munisipale bestuurder, gesê.

Eskom het op 27 Junie bevestig diefstal van kabels en vandalisme aan die infrastruktuur oor die Wes-Kaap heen raak die elektrisiteitstoevoer na verbruikers.

“Botrivier-inwoners sit al van Vrydag 23 Junie sonder elektrisiteit weens vandalisme en kabeldiefstal. Tegnici het dadelik op die fout gereageer en dit ‘herstel’, maar later uitgevind die fout is meer kompleks nadat die krag bly afslaan het. Gespesialiseerde dienste is ingeroep om die probleem op te los,” het die verklaring gelui.

Inwoners het hul misnoeë op sosiale media uitgespreek, en een Facebook-gebruiker was veral bekommerd oor haar bejaarde ma. “My ma woon alleen; ons is in Kaapstad en ons bekommer ons dood oor haar. Skollies loop helder oordag rond, wat nog te sê as die krag af is. Sy is nou ’n teiken van misdaad,” het die bekommerde dogter aan Hermanus Times gesê.

Eskom het inwoners bedank vir hul geduld en gesê enige vandalisme aan Eskom-infrastruktuur of kabeldiefstal moet dadelik aangemeld word by die noodnommer 0800 112 722 of jou naaste polisiekantoor. Eisvorms is by die biblioteek beskikbaar vir inwoners wat met die kragonderbreking skade gely het.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article