Sandra Lotz (Shiraz SA-bestuurder), Carolyn Martin (Creation Wines) en Lawrie Moore (Villion Family Wines) na afloop van die prysuitdeling.


By die 11de jaarlikse Shiraz SA Challenge het die Overberg weer gewys hy hoef vir geen ander wynstreek in die wêreld terug te staan nie. Die uitblinkers van dié kompetisie is op 17 Augustus in die Paarl deur Shiraz SA bekend gemaak, met veteraanwenners sowel as nuwelinge wat presteer het.

Tracey Lange, gewilde radio- en televisiepersoonlikheid, was die seremoniemeester en die musikant Schalk Joubert het die gaste vermaak. Die hoofborg was Vinventions, die internasionale verskaffer van sluitmiddels vir wynbottels wat reeds jare lank by Shiraz SA betrokke is.

Shiraz SA het Creation Wines as die wenner van die tweede jaarlikse Bernard Podlashuk Shiraz-trofee aangewys. Hierdie manjifieke trofee is genoem na die “Vader van Suid-Afrikaanse Shiraz”, Bernard Podlashuk. Hy en sy vrou Fredagh het in 1943 die plaas Bellingham in Franschhoek gekoop en was baanbrekers wat Suid-Afrika se eerste enkelkultivar-shiraz in 1956 gebotteleer het.

Maar dit was Villion-wynlandgoed in Botrivier wat ook die beoordelaars beïndruk het met sy Villion Rosa Rabbedoe Rosé 2023 wat toe ook as die 2023 Shiraz Rosé-wenner aangewys is.

Die bekende keldermeester van De Grendel, Charles Hopkins, sê die gehalte en variasie van vanjaar se inskrywings het uitgestaan: “Ons het slim gebruik van eikehout en meer vruggedrewe geure ervaar. Die uniekheid van shiraz van enkelwingerd-afkoms en die verskeidenheid van terroir was opmerklik.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article