Foto’s van die chaos en bloed op die vloer van een van die kantore is op sosiale media gedeel.


Chaos het Maandag by Albert Myburgh Sekondêre Skool in Bredasdorp uitgebreek toe ’n groep ouers na bewering die skool bestorm het.

In ’n video wat op sosiale media gedeel is, kan gesien word hoe ’n groot skare wat by een van die ingange saamdrom, skielik met ’n groot geraas uitmekaar spat. ’n Foto wys ’n groot plas bloed voor die ingang van wat soos ’n kantoor lyk.

Kerry Mauchline, die Wes-Kaapse minister van onderwys David Maynier se woordvoerder, het bevestig dat ’n leerder deur ’n groep ouers wat die skool betree het gewond is nadat hulle hom gedreig het.

“Die skoolhoof het die polisie ontbied, maar ongelukkig het die groep die leerder bereik en hy is in die arm raakgesteek.

“Die polisie kon daarin slaag om orde te herstel en die leerder sterk tans by die huis aan nadat hy mediese behandeling ontvang het,” het Mauchline verduideik.

Die skool het die voorval in ’n verklaring sterk veroordeel en gesê regsaksie sal teen betrokkenes geneem word aangesien die skool veronderstel is om ’n wapenvrye-gebied te wees. Die skool het voorts bygevoeg dat ’n klag van vandalisme aangemeld sal word.

Volgens die skool het ’n groep ouers die skoolterrein “met voorbedagte rade” betree.

“Dit is onaanvaarbaar dat sekere ouers die skoolprogram omverwerp en meer as 1 000 leerders en 42 personeellede in die skoolomgewing onveilig laat voel. Verder veroordeel ons geweld van enige aard,” lui die verklaring deur die skool.

Die skool het Maandagaand ’n vergadering met ouers van die dorp belê en aangedui dat ’n vergadering met ouers van leerders van Napier Dinsdagaand om 18:00 gehou sal word.

Volgens Mauchline het ’n span van die Overberg-onderwysdistrik se kantoor die skool Maandag en Dinsdag besoek om berading aan te bied.

“Daar is sigbare polisiëring en die situasie is tans stabiel. Ons is met die polisie in verbinding rakende die ondersoek en die skool het met die ouers vergader oor die voorval,” het Mauchline bygevoeg.

Die polisie het bevestig dat een man vir die besit van ’n gevaarlike wapen in hegtenis geneem is.

“Die verdagte het reeds in die Bredasdorp-landdroshof verskyn,” het Kaptein Fadila September bevestig.

’n Klag van aanranding met die doel om ernstig te beseer word ook ondersoek.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article