’n Parkrun is een van die wêreld se gewildste sportaktiwiteite. Hoewel dit vir sommige mense mededingend is, is dit iets waaraan die hele gesin kan deelneem en jy hoef nie ’n superfikse sportman of -vrou te wees om dit te kan doen nie, want jy kan die 5 km hardloop, draf of stap.
Die eerste parkrun is op 2 Oktober 2004 deur Paul Sinton-Hewitt by Bushby Park in London gestig en vind tans weekliks op meer as 1 400 plekke in 23 lande oor vyf vastelande plaas. Die parkrun is deur die bekende ultramarathonatleet Bruce Fordyce in Suid-Afrika begin en bevorder.
Altesaam 26 deelnemers het op 12 November 2011 aan die eerste Suid-Afrikaanse weergawe in Johannesburg deelgeneem. Dié parkrun het intussen tot een van die groter byeenkomste gegroei en lok weekliks tot 1 200 deelnemers.
Inwoners van Caledon, wat al jare lank vir ’n parkrun vra, se drome is uiteindelik bewaarheid toe die eerste parkrun Saterdag (22 April) by die gholfbaan gehou is. Deelnemers het die roete in gietende reën aangedurf en die opgewondenheid van die deelnemers was tasbaar.
Hermanus Times het ’n paar dae voor dié gebeurtenis met ds. Willem Lubbe, een van die organiseerders, gepraat.
“Ná ’n praatjie by ’n skool het ek besef inwoners het ’n behoefte aan ’n drafklub. Dit het die idee van ’n parkrun by my laat opkom. Ek het bloot op die internet navorsing gedoen oor hoe ’n mens so iets begin en wat alles gedoen moet wees. Ek het die punte bymekaargebring en mense gevra om te help, en nou het ons begin. Dit was so maklik soos dit. Ek het in my navraag op die webtuiste genoem ons wil graag ’n parkrun in Caledon begin, en Fordyce het my die volgende oggend gebel. Ek het gesê ons kan die gholfklub gebruik en ek het die ondersteuning van groepe sportmense in die dorp wat graag so iets wil hê, en ook dat ek dink ek het community buy-in omdat baie jong gesinne graag deel van so iets wil wees en dat die gemeenskap gereed is daarvoor. Hy het gesê hul mense sal my kontak en deur die proses begelei, wat hulle op ’n baie hulpvaardige wyse gedoen het.”
Lubbe het ook met die plaaslike munisipaliteit gepraat en die munisipaliteit het hom leiding gegee oor wat van hul kant benodig word. Hy sê ook die Caledon-gholfklub was baie tegemoetkomend.
“Dit was net die regte tyd en geleentheid, dink ek. Geen fooie is betrokke nie, Die beginsel is maar net mense moet gesond in die natuur lewe. Ons moet nie altyd so in vrees lewe om uit te gaan nie. Mense moet weer uitkom, aan die beweeg kom en die lewe geniet.”
Baie mense is, met reg, trots op die aantal parkruns waaraan hulle al deelgeneem het.
“Indien jy jou uitslae wil hê, moet jy op enige parkrun registreer. Gaan na parkrun International se webtuiste, registreer daar, kry jou registrasienommer en strepieskode en dan kan jy aan enige parkrun in die wêreld deelneem.
“Die lekker deel daarvan is dat jy dan deel word van ’n wêreldwye parkrun-gemeenskap,” sê Lubbe.





