Caledon is die voorlopers in Groep A en het klaar sy plek, saam met Saffies van Grabouw, in die halfeindstryd bespreek.Foto’s: Luciano du Toit


Die twee Overbergse spanne Caledon en Saffies van Grabouw het klaar hul plek in die halfeindstryd bespreek met Caledon wat Villagers van Worcester 42-18 geklop en Saffies wat Young Spurs 50-22 kafgedraf het.

Dit beteken dat hulle ná ronde vier nog onoorwonne is.

Die wedstryd tussen Caledon en Villagers was van die begin af ’n naelbytstryd. Dis die eerste keer sedert 2019 dat die twee spanne mekaar op die rugbyveld aangedurf het, en albei spanne het ’n skouspelagtige vertoning gelewer.

Dit is duidelik dat Callies elke wedstryd met selfvertroue aandurf en al het die span Saterdag in die eerste helfte gesukkel om sy voete te vind en die spelers se dissipline hulle in die steek gelaat het, het hulle rustyd weer na die oefenbord gaan kyk en die tweede helfte met oorgawe en goeie dissipline aangedurf.

Callies en Villagers se skrums en lynstane is van die beste in die toernooi en hulle het mekaar voorlangs behoorlik gekarnuffel.

Villagers was vroeg in die eerste helfte op die aanval, maar kon nie deur Caledon se verdediging breek nie. Caledon het in die 11de minuut van die wedstryd ’n strafskop gekry, wat sy heelagter, Lorenzo Swart, maklik deur die pale geklits het. Villagers het twee minute later ook met ’n strafskop geantwoord.

Kort ná die strafskop het Villagers agter Caledon se doellyn gaan kuier en die telling was 10-3 in Villagers se guns. In die 32ste minuut het die drieëvraat Swart ook ’n drie gedruk, wat verdoel is en die telling was gelykop. Dissipline het Caledon voor rustyd laat struikel en Villagers het met nog ’n strafskop geslaag, wat die halftydtelling 13-10 in Villagers se guns gemaak het.

Die manne van die kanolavelde het die wedstryd ná rustyd met nuwe durf aangepak en sommer vroeg-vroeg in die tweede helfte het die flank Rowan Heneke weggebreek, maar hy is net voor die doellyn gestuit. Nadat Villagers ’n geelkaart voor sy doellyn gekry het, het Caledon besluit om te skrum en die agtsteman Preston Dramat het agter die pale gedruk. Villagers het met ’n onverdoelde drie antwoord en die telling was 18-17 in Villagers se guns.

Caledon het die skare nou behoorlik op hul voete gehad en in die 58ste minuut het die nr. 6-flank, Jonahan Wabatyalaka, in die hoekie gaan druk, maar nadat die lynregter ’n fout uitgewys het, is die drie nie toegeken nie en Caledon het ’n strafskop reg voor die pale gekry, wat Swart maklik oorgeskop het.

Ná die “lemoenbreuk” het Caledon al die krane oopgemaak en die senter Dylan May het ná goeie samespel deur Caledon se agterlyn gedruk.

Caledon het met sy drie deur die flank Rowan Heneke sy bonuspunt gekry. Caledon het nie net met ’n strafskop geslaag nie, maar voor die eindfluitjie nog ’n verdoelde drie gaan druk.. Intussen het die wenners van verlede jaar se Sanlam-Boland-toernooi maklik gewen. Ná die afgelope drie weke se wedstryde waar Saffies net-net die knoop deurgehak het, het die span gewys waartoe hy in staat is en oortuigend teen Young Spurs van Doringbaai gewen.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article