Die Caledon-rugbyklub het sy span vir die Sanlam-Boland-Top-12 verlede Maandag (7 Oktober) bekend gestel.
Verskeie sprekers het die spelers en genooide gaste voor die aankondiging van die span toegespreek. Die burgemeester van die Theewaterskloof-munisipaliteit, Tienie Zimmerman, het gesê dit is vir hom ’n voorreg om dié geleentheid by te woon en het sy beste wense aan die spelers oorgedra.
Corniël Calitz van die naamborg Sanlam het in sy toespraak die belangrikheid van sterk, wedersyds voordelige verhoudinge tussen belanghebbendes en organisasies, soos dié van Sanlam en Boland-rugbyunie (BRU), beklemtoon.
Patricia Vorster, ’n lid van die BRU se uitvoerende komitee, het namens die BRU se president, Bennie van Rooi, die volgende boodskap oorgedra: “Vanaand staan ons hier om een van die opwindendste tye op ons rugbykalender te vier. Die Top-12-kompetisie het oor die jare bewys dat dit nie net ’n toets van krag en vaardigheid is nie, maar ook ’n toonbeeld van die ware gees van rugby. Ons weet almal om hier te wees, is nie maklik nie. Dit vereis toewyding, opoffering en onwrikbare vasberadenheid. Die Top-12-kompetisie gee aan ons streek se beste spanne die geleentheid om hulself teen ander uitmuntende klubs te meet.”
Heindrich Wyngaard, waarnemende voorsitter van die Caledon-rugbyklub, het as seremoniemeester opgetree. Hy het nie net die spelers en gaste verwelkom nie, maar ook die borge vir hul groot bydraes bedank.
By die geleentheid het hy ook aangekondig dat ’n nuwe borg, Teljoy, ’n geskenkpak met ’n sweetpak, T-hemp, sportsak en waterbottel aan elke speler teenwoordig geskenk het. Die kaptein, PJ Bester, het as “model” opgetree en dié nuwe uitrusting met trots tentoongestel. Die luisterryke aand is met ’n heerlike ete vir al die spelers en gaste afgesluit.





