Caledon het ná baie jare uiteindelik weer ’n toerisme- en inligtingskantoor nadat die plaaslike kantoor sy deure in 2019 gesluit het.
Beyond Black Mountain (BBM) het Vrydag 30 Junie sy nuwe kantoor by ’n intieme geselligheid aan die publiek bekendgestel.
Wat veral verblydend is, is dat dit – soos die naam aandui – ’n baie wyer gebied as net Caledon dek. BBM werk nou saam met toerismekantore van omliggende dorpe asook die hele Wes-Kaap en bevorder sodoende toerisme in die hele omgewing.
Lizël Kimber, een van die direkteure van BBM, sê: “Ons spits ons toe op toerisme, inligting en bewaring. Toeriste kan enige inligting rakende toerismebedrywighede in Caledon en die omliggende gebiede by ons verkry. Toerisme – veral in Caledon – is baie belangrik, want dit wakker ekonomiese groei en werkskepping aan.
“Ons het ’n groot passie vir die Caledon-veldblommetuin – vir die herstel en bewaring daarvan. Ons doen onder meer gereeld hacks in die veldblommetuin om van indringerplante ontslae te raak. Dit is bemoedigend om te sien die plaaslike gemeenskap raak ook stadig daarby betrokke.
“Ons inligtingskantoor is die ideale platform om bewusmaking oor die Veldblommetuin te skep,” sê Kimber. “Ons is aktiviste vir die Veldblommetuin en Caledon in sy geheel met sy ryk kultuur en geskiedenis wat behoue moet bly.”
Kimber sê ook hulle beoog om in ’n later stadium interessante toerismepakkette, wat gidse insluit, aan te bied.
Beyond Black Mountain is ’n organisasie sonder winsbejag wat hoofsaaklik van skenkings en borgskappe vir sy projekte afhanklik is. . Vir meer inligting gaan loer in by hul kantoor in Meulstraat 8, Caledon of besoek www.beyondblackmountain.co.za





