Die Protea-dienssentrum in Caledon het onlangs laat weet een van sy lede het ’n ou koerant van 1922.
By nadere ondersoek blyk dit toe dat dit ’n tydskrif is en nie ’n koerant nie. Navraag by kundiges het bevestig dat Die Burger Nuwejaarsnommer1922 wel ’n tydskrif is wat jaarliks tot 1925 uitgegee is.
Oom Dirk van Dyk, oorspronklik van Bredasdorp, maar reeds 20 jaar ’n inwoner van Caledon, noem aan Hermanus Times hy het dié besondere geskrif tussen sy oorlede skoonmoeder se besittings aangetref. Met ’n glimlag voeg Oom Dirk by: “Ek is darem nog nie so oud dat ek dié kan onthou nie.”
Die tydskrif, wat ’n reproduksie van ’n Pierneef-houtsnee op die voorblad gehad het, is propvol interessante berigte en verhale van onder andere Sangiro, Gustav Preller, J. van Bruggen en J.F.W. Grosskopf.
Die onderskeie advertensies van sakeondernemings en produkte is ook baie interessant.
Nadat Hermanus Times die tydskrif onder oë gehad het, het Oom Dirk aan die verslaggewer gesê: “Jy kan dit maar kry.”
Hoewel die voorblad en agterblad deur die jare in die slag gebly het, is die tydskrif steeds van kulturele belang en dit sal binnekort aan ’n instansie geskenk word wat dit sal uitstal en bewaar.





