Die Caledon-biblioteek bied ‘n gereelde diens by die Heidehof Tehuis vir Bejaardes aan waar inwoners in die gerief van hul eie omgewing biblioteekboeke uitneem.
Tannie Thelma Petersen (95), ‘n inwoner, is baie lief vir lees en het die biblioteek se diens gereeld gebruik. Ongeveer ‘n jaar gelede het sy aan Gerhard Afrika-van Wyk van die Caledon-biblioteek genoem dat sy sukkel om te lees en al hoe minder boeke uitneem.
Afrika-van Wyk het haar van die Envoy Connect-luisterboektoestel vertel en tannie Thelma het genoem sy sou gewis daarin belangstel. Die Envoy Connect is ‘n sonkrag aangedrewe en ook USB-herlaaibare luisterboekspeler. Dié toestel, wat tot 30 boeke kan berg, is maklik om te gebruik en het ‘n tasbare sleutelbord wat vir blinde en swaksiende gebruikers ontwerp is. ‘n Stel oorfone word ook voorsien. Die voorlesings is gebruikersvriendelik en sag op die oor.
Afrika-van Wyk sê: “Hierdie diens word in samewerking met die Suid-Afrikaanse biblioteek vir blindes aangebied en hulle voorsien ons van stories en boeke. Hulle het ook ‘n rekenaar by die Caledon-biblioteek vir die gebruik vir swaksiendes. Dié rekenaar word ook vir die aflaai van stories en boeke na die Envoy Connect-toestel gebruik.”
Wanneer gebruikers klaar geluister het, kan hulle die biblioteek kontak, waarna nuwe boeke op die toestel afgelaai sal word. Afrika-van Wyk sê mense wat in so toestel belangstel, kan die biblioteek kontak om ‘n aansoekvorm te voltooi.
Afrika-van Wyk het een van dié toestelle Vrydag 14 November aan tannie Thelma oorhandig en aan haar verduidelik hoe dit werk. “Ek is seker tannie Thelma sal die toestel sommer gou baasraak, maar ek sal binnekort weer gaan inloer om te kyk of sy regkom daarmee,” sê Afrika-van Wyk.





