Lees mense, en veral kinders, nog boeke? Gebruik hulle biblioteke? Dien biblioteke nog enigsins ’n doel in ons gemeenskappe?
Dít is van die belangrike vrae wat Gerhard van Wyk van die Caledon-biblioteek onlangs aan Heindrich Wyngaard, ’n inwoner van Caledon en ’n bekende radio- en televisie-persoonlikheid, gevra het.
Wyngaard is ook die voorsitter van die Kaapse Forum, maar is alombekend as Mnr. Klop, na aanleiding van sy gewilde weeklikse televisieprogram.
Omdat dit blyk dat daar ’n redelike afname in biblioteekgebruikers is – veral onder kinders – het die Caledon-biblioteek besluit om bewusmaking van die belangrikheid van lees te bevorder. In die kinderafdeling was daar ’n pragtige uitstalling van kinderboeke en ’n reuseplakkaat met “Back to school is cool” daarop.
Tydens die gesprek is genoem dat biblioteke ’n tuiste moet wees vir alle gebruikers van leesmateriaal, hetsy ontspanningsliteratuur of opvoedkundige materiaal. Kinders moet die biblioteek hul maat maak en sommer hulle maatjies saambring, want dit is ’n plek waar hulle nie net nuwe wêrelde kan ontdek nie, maar ook hul woordeskat kan verbreed, wat hulle later goed te staan kan kom.
’n Groot probleem is dat mense, en veral kinders, nie met begrip lees nie. Om kinders hiermee te help, word gebruik gemaak van die gewilde YeBoneer-program, wat gereeld by alle TWK-biblioteke aangebied word. ’n Nuwe inname van YeBoneers word oor ’n paar maande verwag.
Indien u nog nie aan die Caledon-biblioteek behoort nie, gaan maak gerus ’n draai daar en praat met die vriendelike en behulpsame personeel. Neem sommer u kinders ook saam en vind uit oor die interessante programme wat die biblioteek gereeld vir kinders aanbied.





