Die afgelope vakansieprogram was weer eens ‘n reusesukses. Op die laaste dag van die program, die sportdag wat in die Caledon-veldblommetuin aangebied is, het TWK se burgemeester Lincoln de Bruyn en raadslid Yvonne van Tonder by dié aktiwiteit gaan inloer. Foto: Mitzi Buys

Die gewilde vakansieprogramme wat die Caledon-biblioteek in samewerking met die Caledon-museum aanbied, is ‘n gulde geleentheid vir laerskoolleerders om gedurende die vakansie onder toesig aan ‘n verskeidenheid stimulerende programme deel te neem.

Dié program word reeds die afgelope 16 jaar aangebied en gaan van krag tot krag. Die verskeidenheid van die programme maak dit vir die kinders elke keer interessant. Die program is nie net opvoedkundig nie, want die kinders kan deur middel van verskeie speletjies heerlik met kinders van hul eie portuurgroep sosialiseer.

Die pas afgelope lentevakansieprogram het onder meer ‘n rolprentvertoning, ‘n speletjiesdag, ‘n skattejag, die uitbeelding van ‘n storie en ‘n sportdag ingesluit.

Gerhard Afrika-Van Wyk van die Caledon-biblioteek sê die program is goed ondersteun en dit was weer eens ‘n groot sukses met 150 kinders wat bereik is. Volgens Afrika-Van Wyk was die sportdag wat in die Veldblommetuin aangebied is gewis die hoogtepunt van die program. Hier kon die kinders na hartelus aan verskeie sportitems deelneem.

TWK se uitvoerende burgemeester, Lincoln de Bruyn, en die raadslid Yvonne van Tonder het vinnig by dié geleentheid ingeloer en die burgemeester het ook ‘n kort gesprek met die kinders gevoer.

Ouers word aangemoedig om hul kinders aan hierdie vakansieprogramme te laat deelneem. Inligting oor die volgende program sal nader aan die tyd by die biblioteek en die museum beskikbaar wees.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article