Nie eens die afgelope naweek se reën kon ’n demper op die komende Buitelug-en-veldry-Xpo Grabouw by die Elgin-krieketklub plaas nie.


Grabouw, Wes-Kaap 3 – 5 November 2023

Die komende Buitelug-en-veldry-Xpo Grabouw by die Elgin-krieketklub buite Grabouw is om die draai met die goeie nuus dat nie eens die afgelope naweek se storms ’n demper op dié opwindende nuwe saamtrek kon plaas nie.

Die ekspo, met die klem op gesinsvermaak, veldryvoertuie en -toerusting en vermaak vir die kleingoed, begin Vrydag 3 November met die hooffokus Saterdag 4 November en die laaste dag Sondag 5 November.

Nie eens die afgelope naweek se reën kon ’n demper

Kinders onder 12 geniet GRATIS toegang met GRATIS gebruik van die kindervermaakgebied (speletjies en talle ander aktiwiteite) sowel as ’n GRATIS koeldrank en lekkergoedpakkie.

Vir hul ouer sibbe en ouers is talle uitstallers reeds bespreek met nuwe en gebruikte voertuie, woonwaens – waarvan twee hul SA buiging by die skou sal maak – en ’n magdom uitstallers van ander veldry- en veral kampeertoerusting.

Kosstalletjies vir Afrika en natuurlik ’n biertent en wynproe-afdeling (wynproe kos R250 ekstra) is ook op die program.

Hoewel dié buitelugskou op hoofsaaklik dagbesoekers gemik is, is 40 kampeerplekke beskikbaar. Spring dus gou om jou staanplek by www.lrclassic.com te bespreek.

Wat dagbesoekers betref, moet kaartjies vooraf elektronies op die webwerf www.lrclassic.com gekoop word. Ouers hoef nie vir kinders onder 12 te betaal nie. Vir ouer kinders tot 18 kos dit elke dag van die skou net R20. Volwassenes betaal Vrydag en Sondag R40 (pensioentrekkers R20) en Saterdag kos dit R50 (pensioentrekkers R30). Parkering is gratis.

Die skou, wat Vrydag van 12:00-18:00 oop is, Saterdag van 08:00 tot 18:00 en Sondag van 08:00 tot 15:00, sluit ook ’n biertent in sowel as ’n baie eksklusiewe kaas-en-wynproe-geleentheid.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article