Februarie is vir baie mense die maand van liefde, maar vir die Cliff Path Action Group (CPAG) is dit ’n maand waarin hul drome nie net waar geword het nie, maar ’n maand wat hulle die strydbyle uiteindelik gaan begrawe.
Ná jare se petisies, briewe, vergaderings en noodkrete het die bouwerk om die Cliff Path by Poole’s Bay te verbind, begin.
“Dit was ’n hoendervleis-oomblik toe ons op 26 Februarie met die bouwerk kon begin. Dit is nou al langer as 20 jaar die CPAG se droom om hierdie paadjie te verbind, en nou is dit ’n werklikheid. Al ons harde werk en baklei was nie verniet nie,” het Jobre Stassen van die CPAG gesê. “Baie dankie vir almal se ondersteuning in dié verband.”
Inwoners en besoekers sal met die verbinding vanaf Grotto Beach met die Cliff Path na die Nuwe Hawe kan stap. Dit is 12 km. In die verlede het die Cliff Path by Poole’s Bay gestop en moes die stappers dan straatlangs loop.





