Daar is steeds geen teken van Denzel Apollis wat Dinsdag 4 Julie spoorloos verdwyn het nie.


Groot kommer heers oor die welstand van Denzel Apollis, ’n bekende inwoner van Kleinmond, wat reeds ’n week lank vermis is.

Familie en vriende het dringende pleidooie vir enige inligting oor waar hy hom bevind, op sosiale media gedeel. Hulle pleit dat enigeen wat hom dalk ’n rygeleentheid gegee het, dadelik die polisie moet kontak.

’n Inskrywing op Facebook beskryf die familie se bekommernis en vra hoe dit moontlik kan wees dat geen teken bestaan van waar hy hom bevind nie.

“Om nie te weet waar jy is nie, maak seer, want ons het jou sooooooo baie lief . . . Boeta, jou huis is stil en jou kombuis koud . . . Boeta, almal soek na jou . . . Ons almal probeer die puzzle oplos en ons mis die masterpiece, maar deur dit alles bly ons hoopvol dat ons jou gaan vind,” lui die inskrywing.

Apollis is volgens berigte Dinsdag 4 Julie laas op die R44 tussen Rooiels en Gordonsbaai gesien. ’n Wetstoepassings- en ’n verkeersbeampte het hom glo langs die pad gewaar en Apollis het hulle ingelig dat sy voertuig meganiese probleme ondervind het. Hy het hulle ook volgens hul verslag ingelig dat sy swaer op pad was om hom te help.

Apollis se familie het hom die aand as vermis aangemeld. Sy Bantam-bakkie is vroeg die volgende oggend teen ’n helling af gevind. Die bakkie se sleutels was nog in die voertuig, maar van Apollis was daar geen teken nie.

Volgens bronne was die voertuig nie ernstig beskadig nie en was daar slegs ’n klein stampmerk voor aan die bakkie. Daar was ook geen bloed of enige tekens van ’n struweling nie.

AO Martin Mostert, ’n woordvoerder vir die Kleinmond-polisie, sê die polisie, Overstrand-wetstoepassing en verkeersbeamptes het ’n soektog na die vermiste bouer van stapel gestuur.

Hommeltuie is ook ingespan om die gebied vir enige teken van Apollis te fynkam.

“Ons het ook die gebied waar sy selfoonsein laas opgetel was, gefynkam, maar geen teken van die vermiste man is gevind nie,” het Mostert verduidelik.

Volgens inligting wat deur sy familie op Facebook geplaas is, was Apollis tydens sy verdwyning in ’n blou oorpak-broek, swart skoene en ’n mosterd-kleur kappietop geklee.

Enigeen met inligting oor waar Apollis hom bevind, kan sy familie by 082 553 4123 of 079 894 0023 of die Kleinmond-polisie by 028 271 8200 kontak.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article