Die nuweling Botrivier en Safcol is gereed vir die Sanlam-Boland-Top-12-kompetisie, wat op 11 Oktober plaasvind.
Die Boland-rugbyunie het pas die spanne aangekondig wat in vanjaar se Sanlam-Boland-Top-12-kompetisie – die toppunt van klubrugby in die streek – gaan deelneem, tesame met drie bykomende premier-streektoernooie – die Super 10 (streekuitdaag), die Super 16 (gemeenskapskild) asook die Super 8 (vroueliga).
Al die wedstryde skop op 11 Oktober af, met die halfeindwedstryde op 15 November en die eindwedstryde op 22 November. Dit word in die Boland-rugbystadion in Wellington gespeel.
Die verdedigende kampioen, Robertson Town RFC, sal drie wedstryde aanbied, net soos vyf ander spanne wat eerste in hul onderskeie Boland-klubrugby se Grootuitdaag-kompetisies geëindig het. Spanne wat tweede geëindig het, sal drie wegwedstryde en twee tuiswedstryde speel.
In die eerste ronde word 2023 se Sanlam-Boland-Top-12-eindstryd herhaal, met Robertson Town wat Safcol United ontvang, terwyl Roses United Vredenburg verwelkom. Worcester Villagers reis na die Overberg om Botrivier te trotseer.
In ronde twee reis Roses United na Bolandpark om 2024 se naasbestes, die Worcester Villagers, te ontmoet in wat ‘n vermaaklike kragmeting beloof te wees. 2023 se kampioen, Safcol United van Grabouw, ontvang die Noordweste-kampioen, Delicious, terwyl die Vanrhynsdorp Eagles Botrivier in die Matzikama-munisipaliteit verwelkom.
“Die Sanlam-Boland-Top-12 bring hoop en skep ‘n gesonde platform vir Boland se jong talent om vertoon te word,” het Bennie van Rooi, die president van die Boland-rugbyunie, gesê. “Ons vier die energie en passie van elke ondersteuner, bestuurspanlid, speler en afrigter.
“Dit sou nie moontlik gewees het sonder enige van ons borge nie – dankie aan Sanlam, Santam, Vuma, Tekkie Town, Heineken Beverages, Rainbow Chickens en ons nuutste vennoot, Mama’s Pies. Ons kan die platform deur hierdie vennootskappe ophef. Hierdie seisoen beloof onvergeetlike rugby vir ons gemeenskappe.”
Sanlam-Boland-Top-12-spanne:
• Robertson Town RFC (verdedigende kampioen)
• Villagers Worcester RFC(2024 se naaswenners)
• Safcol United RFC (2023 se kampioen)
• Botrivier RFC (nuwelinge)
• Saldanha Bay RFC (2019- en 2022-wenners)
• Roses United RFC(die enigste onoorwonne span van die 2025-seisoen)
• Vanrhynsdorp Eagles RFC (terug uit die Noordweste)
• Delicious NW RFC (terug in Sanlam-Boland-Top-12 sedert 2023)
• Hillcrest United RFC (naaswenners in vorige Top-8- formaat in 2017)
• Vredenburg RFC (terugkerende Weskus-span)
• Wesbank RFC (keer terug na die Sanlam Boland-Top-12 sedert 2023)
• Abbottsdale RFC (terugkerende Swartland-span)
Dimitri Jacobs, die voorsitter van Safcol, vertel: “Ons laaste Top-12-wedstryd verlede jaar was teen Robertson, waar ons met een punt verloor het. Hierdie jaar speel ons ons eerste wedstryd teen hulle en sien daarna uit om die bordjies te verhang. Albei Top-12-groepe is ewe moeilik en ons almal sal in elke wedstryd op ons beste moet wees.”
Safcol het ook Saterdag (27 September) in die Pick n Pay Gold Cup teen die Naka Bulle gespeel. Die Naka Bulle is die dubbele verdedigende kam- pioen. Safcol het 66-8 teen dié span verloor. Valentino Moses, ‘n Saffies-ondersteuner, het op sy Facebookblad geskryf: “Vandag het Saffies teen krag te staan gekom – die Naka Bulle, agtereenvolgende kampioen van die Gold Cup. Die telbord het dalk 66-8 gewys, maar Safcol het nooit teruggestaan nie, ongeag wie die teenstander is. Julle het met ambisie, hart en karakter opgedaag. Hou jul koppe omhoog, want julle het jul dorp, gemeenskap en ondersteuners agter julle.”






