’n Wetstoepassingsbeampte van die Theewaterskloof- munisipaliteit het Vrydag op verskeie aanklagte ingevolge die Wet op die Voorkoming van Georganiseerde Misdaad sowel as aanklagte wat met die Wet op Mariene Lewende Hulpbronne verband hou in die hof verskyn.
Die beampte, Marius Hendricks (50), het saam met ’n bekende bouer van die Overberg, Jacob “Japie” Arendse (56), Magnon Swartz (56), Jerome Jacobs (51), Francois Visser (46), Danny Ralph Marais (65), Koobadran Naidoo (62) en Kaiden Logistics CC in die George-streekhof verskyn. Al die verdagtes is op borgtog wat wissel van R2 000 tot R10 000 vrygelaat. Dié verdagtes is verlede Maandag (10 Junie) tydens ’n optrede wat deur die Valke gelei is in hegtenis geneem en het Dinsdag 11 Junie in die hof verskyn tesame met Jianxian Wu (49) wat in Mei in Brits aangekeer is.
Zinzi Hani, ’n woordvoerder vir die Valke, berig die mans is na bewering deel van ’n sindikaat wat verbind word met 12 voorvalle waartydens die owerhede op meer as 25 ton perlemoen met ’n geraamde waarde van meer as R37 miljoen beslag gelê het.
Een van dié voorvalle was in Mei 2016 toe die Valke, in samewerking met beamptes van die departement van bosbou, visserye en die omgewing se spesiale ondersoekeenheid, op ’n onwettige verwerkingsaanleg op ’n plaas buite Greyton toegeslaan het. Twee mans is in hegtenis geneem en daar is op meer as 25 000 perlemoene en toerusting beslag gelê.
Die verdagtes staar altesaam 77 aanklagte, waaronder die onwettige berging en vervoer van perlemoen en die onwettige bedryf van ’n visverwerkings-aanleg, in die gesig.
Volgens Hani staar die verdagtes ook aanklagte van geldwassery, die bestuur van ’n misdadige onderneming deur ’n patroon van rampokkery en die onwettige uitvoer van perlemoen in die gesig.
Die saak teen Naidoo, Jacobs, Swartz, Hendriks, Visser, Arendse, Marais en die maatskappy is tot 19 Julie vir verdere ondersoek uitgestel.
Wu sal tot 24 Junie aangehou word wanneer hy om borgtog aansoek sal doen.
Wilfred Solomons-Johannes, TWK se munisipale bestuurder, het bevestig Hendricks is in Maart 2023 as senior inspekteur by die munisipale wetstoe-passingseenheid aangestel.
Volgens Solomons-Johannes sal ’n tugondersoek na aanleiding van Hendricks se inhegtenisneming gedoen word.
Hendricks het voorheen by die Overstrand-munisipaliteit as hoof van wetstoepassing gewerk.




