Die polisie in die Overberg was vandag in rep en roer nadat bomdreigemente by die Caledon-landdroshof en Grabouw se Thusong-saal aangemeld is.

Betroubare bronne het aan Hermanus Times bevestig dat die Caledon-landdroshof ontruim moes word terwyl beamptes van die polisie se Overberg-honde-eenheid die perseel vir enige moontlike ploftoestelle deursoek het. Geen ploftoestelle is egter op die perseel gevind nie.

Berigte dat een man, ‘n buitelander, in verband met die valse bomdreigement in hegtenis geneem is, kon nie dadelik bevestig word nie.

Beamptes van die honde-eenheid en hul snuffelhonde is kort daarna na Grabouw ontbied na bewerings dat daar ‘n bom in die Thusong-saal in Ou Kaapseweg is.

Gerugte het ook die ronde gedoen dat die bomdreigement in Grabouw dalk die werk kan wees van ‘n persoon of persone wat die begrotingsvergadering van die Theewaterskloof-munisipaliteit wil ontwrig.

Verdere opdaterings oor die stand van sake sal volg.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article