Die Boland-rugbyunie pronk met ’n nuwe visepresident nadat die kandidaat met ’n meerderheid stemme gewen het.
Pat Marran is Saterdag as die nuwe visepresident van die BRU aangewys. “Die uitslag wys die klubs se geloof en vertroue in die uitvoerende komitee van die BRU asook sy leierskap onder leiding van die president van die BRU, Bennie van Rooi,” het die woordvoerder van die BRU gesê.
Van Rooi het Marran in sy toespraak gelukgewens met sy prestasie en die rol en verantwoordelikheid wat nou op Marran se skouers gaan lê, beklemtoon.
“Die visepresident is een van die belangrikste rolle in die BRU en dit is belangrik om te onthou dat ons as bestuur en komitee die klubs en die gemeenskap binne in die BRU-gebied moet dien.
“Leierskap gaan oor diensbaarheid en ek is seker dat Marran die waardes van die BRU op sy hart dra en daartoe bydra dat die BRU as unie net van krag tot krag sal gaan,” het Van Rooi gesê.
Marran het tydens sy verkiesing ’n eed afgelê om hom toe te wy om sport in die BRU te verbeter asook om eenheid binne die BRU teweeg te bring.
Ná sy verkiesing het gelukwensings op Facebook ingestroom en almal is dit eens dat Marran die geskikte kandidaat vir die pos is.. Met die Grootuitdaagbeker in volle gang word hierdie naweek weer rugby uit die boonste rakke opgelewer.
Tans is Caledon steeds die voorloper op die punteleer met 71 punte, met Safcol wat kort op sy hakke is met 69 punte. Botla Fire staan op 55 punte met Hawston Skrik vir Niks in die vierde plek met 54 punte.
Dié naweek pak Safcol en Hawston mekaar terwyl Caledon teen Genadendal gaan kragte meet.
Gansbaai speel teen Botla Fire en Riviersonderend teen Kleinmond. Villiersdorp gaan die Bredasdorp Rangers pak.




