Vrouerugby floreer deesdae wêreldwyd – nie net het die Springbokvroue vriend en vyand verras met verlede jaar se Wêreldbekerreeks toe hulle bo verwagting die kwarteindstryd gehaal het nie, maar die afgelope naweek het die vroue-7’s-span as kampioene in Doebai weggestap.
Sanlam-Boland-Dames het ook in hul eerste wedstryd van die jaar uitgeblink en iemand wat ‘n merkwaardige uitwerking op vrouerugby het, is die Hermanus-inwoner en Sanlam-Boland-Dames-afrigter, Thomas Chowles.
Volgens Chowles het hulle die afgelope naweek ‘n oefenkamp vir die juniors in Hawston gehou voordat die Sanlam-Boland-Dames ‘n polisiespan van Engeland aangedurf het. “Bewusmaking van vrouerugby lê my na aan die hart. Dis waarom ons gereeld oefenkampe en wedstryde vir nie net juniors nie, maar ook vir klubspanne aanbied.”
Die harde werk wat Chowles en die res van die bestuur insit, het vrugte afgewerp, want binne die eerste minuut van die wedstryd teen die British Police FRC-span het die Boland-Dames agter die doellyn gaan kuier. “Die wedstryd is in ‘n ongelooflik goeie gees gespeel – sonder enige beserings – maar daar was net een span op die veld en dit was die Boland-Dames,” het Chowles gesê.
Die Boland-Dames het halftyd 43-12 voorgeloop en die tweede helfte het hulle die krane oopgedraai en met ‘n wegholoorwinning van 93-12 geseëvier. “Ons het alle aspekte van die wedstryd oorheers – van die skrums tot die lynstane. Ons vroue het net uitstekend gespeel en met hul hele hart in die wedstryd ingegaan,” sê Chowles.
Van die spelers wat uitgestaan het, is Sinalo Ziqwayi, wat sommer drie drieë ingeryg het. “Ons het net van die begin af die oorhand gehad en daar was geen keer aan die vroue nie.”
Volgens hom bestaan die British Police FRC-span uit polisievroue van Engeland, Wallis en Skotland en is dit ‘n groot prestasie vir die Boland-Dames om so goed te presteer.
“Die British Police FRC-span gaan ook nou teen WP speel.”





