Nathan Diedericks is skugter oor sy prestasies, maar as hy eers oor sy passie – boks – praat, kan hy nie ophou nie. Hy het verlede naweek tydens die WP-bokskampioenskap in Hermanus uitstekend gevaar.
Hy vertel hy het op die ouderdom van 15 begin boks en van die staanspoor af dit baie geniet. “Ek het so 18 maande gelede eers begin boks, want ek het dié sportkode gesien as ’n vaardigheid wat almal maar moet bemeester. Maar toe die gogga my eers byt, kon ek nie ophou nie en het agtergekom dis verslawend, want jy wil net beter en beter doen,” vertel Nathan.
Vir die tiener was een van sy hoogtepunte in sy kort boksloopbaan verlede naweek toe hy as die WP-swaargewigkampioen in die jeugliga gekroon is. “Dit was ’n ongelooflike gevoel toe ek wen. Ek kan dit nie beskryf nie. Om daardie goue medalje om my nek te sit, was ongelooflik. Nou gaan ek in die Julie-vakansie aan die Suid-Afrikaanse kampioenskap in Giyani in Limpopo deelneem.”
Nathan sê hy sou nie hierdie prestasies kon behaal het sonder die hulp en ondersteuning van sy oom nie.
“My oom, Jacques Botes, is nie net my rolmodel nie, maar motiveer my ook om bo uit te kom. Nie net is hy altyd daar vir my nie, maar ondersteun my ook finansieel. Hy het sy eie onderneming, Luvhilo Connect, op die been gebring en gewys met deursettingsvermoë kan jy alles regkry.”
Volgens Nathan is dit ook harde werk om bo uit te kom en het hy twee afrigters, Jacques en Lotta en oefen hy gereeld by GB-gimnasium. “Ek geniet die gimnasium baie en ons is baie wat saam daar oefen – amper soos ’n groot familie wat mekaar druk om net beter en beter te presteer. Ek oefen vier keer per week saam met my afrigter en oefen ook alleen by die huis.”
Nathan wil graag boks gebruik om die wêreld te sien en sê hy wil graag al die boksstyle bemeester voordat hy besluit waarin hy gaan meeding. “Die sky is the limit; daar is nog so baie style wat ek kan beoefen,” vertel hy opgewonde.
Met al sy boksbedrywighede fokus Nathan steeds op sy akademie. Een van sy gunstelingvakke is wiskunde “want daar is altyd net een regte antwoord”.
Hy wil eendag ’n chemiese ingenieur of argitek word.
Volgens Nathan se oom Jacques is hulle baie trots op hom. “Toe Nathan so twee jaar gelede saam met sy ouma na Hermanus verhuis het, het die jong man gewys wat in hom steek en bo alle verwagting uitgestyg. Sy toewyding om te presteer is iets om te bewonder. Hy werk hard aan sy sportdrome en werk daaraan om gewig te verloor sodat hy in die middelgewig-afdeling kan meeding. Hy werk nie net in sy aftyd in ons besigheid om ekstra sakgeld te verdien nie, maar is altyd gewillig om hard te werk en niks is vir hom te veel nie,” sê Jacques. Volgens hom help hulle hom finansieel om aan die toernooie deel te neem, maar is dit nie altyd maklik nie – veral nie met die SA’s wat nou opkom nie.
Nathan leef sy motto: Mors ante cladem, “death before dishonor”, uit.
“Ek sal tot die einde toe veg – nie net in die bokskryt nie, maar ook vir dit wat ek in die lewe wil hê, want as ek nie veg nie, gaan ek spyt wees ek het nie probeer nie,” verduidelik hy.





