As ’n mens dink aan ’n BMX, dan dink jy aan jou klein boetie wat in die jare tagtig ná skool op en af met sy BMX in die strate gery en ’n paar toertjies uitgevoer het, homself nerfaf geval en weer opgeklim het om sy gunstelingfiets te ry.
Toe is dit resies- en bergfietse wat die nuutste fietsry-neiging was, maar dit was nie lank daarna nie of BMX-fietse is weer op die pad, op fietsrybane en selfs by die Olimpiese Spele te sien.
Volgens ’n BMX-liefhebber het die eerste BMX-fietse hul verskyning in die vroeë jare sewentig in die suidelike dele van Kalifornië gemaak toe ryers soos veldfietsrenners ook aan hul eie unieke renne wou deelneem.
Maar dit was in 2008 tydens die debuutdeelname aan die Olimpiese Spele dat BMX-fietsrenne weer op almal se lippe was en BMX-bane en -klubs het oral hul verskyning begin maak.
Een so ’n klub, wat destyds op die been gebring is, is die Overberg-BMX-klub in Hermanus, en met die ervare Rickus Muller aan die stuur kan ’n mens baie van die klub verwag – van wêreldgehalte- toernooie tot individue wat presteer.
Daar is nie ’n gelyke as dit kom by sy liefde en passie vir die BMX-kultuur nie – soos op Facebook oor hom geskryf is: “Rickus is nie net die Wes-Kaapse BMX-voorsitter wat BMX na die Wes-Kaap gebring het nie, hy is ook een van die topfietsryers wat die land nog opgelewer het.”
Rickus is gekies om aan die wêreldkampioenskap in Skotland in die “cruiser”-mansafdeling vir deelnemers tussen 45 en 49 jaar oud te gaan deelneem. Dié kampioenskap het Sondag begin en al is Rickus nie lief vir die kollig nie, het Hermanus Times met hom voor die kampioenskap gesels.
“Dis vir my moeilik om oor myself en my prestasies te praat; ek hou daarvan om eerder agter die skerms te wees en ander op te hef,” vertel hy.
Dit is nie die eerste keer dat die geleentheid oor Rickus se pad kom nie en hy vertel hy het in 1992 as ’n 15-jarige fietsryer aan sy eerste wêreldkampioenskap in Brussels deelgeneem. “Ek het ook verlede jaar Frankryk toe gegaan om daar deel te neem, maar griep het my platgetrek en ek moes in die bed bly. So, dit is eintlik my eerste wêreldkampioenskap ná 31 jaar,” sê hy.
Rickus spog met jare se ondervinding en senuwees van staal en is baie opgewonde oor die wêreldkampioenskap. Hy vertel: “Ek is baie opgewonde, maar terselfdertyd ’n bietjie op my senuwees. Dit is seker hoe dit by enige kampioenskap gaan – jy weet nie eintlik wat gaan gebeur nie en die onsekerheid maak jou senuwees klaar.”
Volgens hom moes hy behoorlik bloed sweet om te kom waar hy nou is en sy oefenprogram van ses dae per week het vrugte afgewerp. “As ek nie op die baan of in die buurt ry nie, is ek in die gimnasium, en dan neem ek Sondae aan verskillende kompetisies ook deel,” sê hy.
Hy lag en vertel dat hy oor sy sell-by date is as dit by die Olimpiese Spele kom, maar sê hy wil graag onder die top-agt in sy afdeling eindig. “Ek los maar die Olimpiese Spele vir die jongeres; miskien is daar ’n fietsryer van die Overberg wat ons land by die Spele eendag gaan verteenwoordig, en dit sal baie great wees.”
As jy nie vir Rickus op sy fiets sien nie, is hy in die see. “Afgesien van fietsry, geniet ek branderry net so en dié sportsoort het tot in 2018 ’n groot rol in my lewe gespeel toe ons die BMX-baan op die been gebring het,” sê hy.
Rickus is ook bang om te gou oud te word en vertel met die tong in die kies dat hy so veel cool goed as moontlik wil doen voordat dit te laat is. “Ek wil die wêreld sien, die land vol reis en so veel as moontlik vir ander mense doen,” vertel hy.





