BMW – sekerlik een van Suid-Afrika se gewildste luukse handelsmerke – het verlede Woensdagaand met die louere weggestap toe sy weelderige 7-reeks-sedan as Suid-Afrika se nuwe Motor van die Jaar vir 2024 aangewys is.
Die besonderse juweel in die motorbedryf (R2 270 000) met deure wat vanself oop en toe kan gaan, teruglê-sitplekke en slimfoon-tipe kontroles vir die agterste passasiers, waarmee insittendes rolprente op ’n groot platskerm-TV wat uit die dak swaai, kan kyk, het Suzuki se klein Fronx (R297 900) net-net om die louere uitgestof.
Vanjaar se 24 beoordelaars het bestaan uit lede van die Gilde van Mobiliteitsjoernaliste, asook genooide kenners in die gebied van ontwerp en digitale tegnologie.
Moderne motors is ’n kragtoer wat interkonnektiwiteit betref en word al meer ontwerp rondom die behoeftes van die nuwe, tegnologie-bedrewe geslag van jong kopers. Die digitale funksies van die BMW 7-reeks was een van die redes waarom die beoordelaars dit so hoog aangeskryf het. Die weeldemotor se nutsfunksies soos die radio, lugversorging en selfstuur kan alles met stem- of handbevele geaktiveer word.
Anders as Europese en Amerikaanse kompetisies waar ’n wenner slegs per e-posstemming gekies word, hou die Suid-Afrikaanse weergawe in Januarie twee toetsdae op die Zwartkops-renbaan, waartydens al agtien finaliste deur ’n reeks statiese en dinamiese toetswerk gesit word.
Aspekte waarop die voertuie beoordeel word, is onder meer hul ontwerp en voorkoms, die afwerking en gehalte van die kajuit, hul dinamiese eienskappe op ’n toetsbaan en waarde vir geld. Data oor mededingers in elke afdeling, verkry deur die data-versamelingsdiens Lightstone, word ook tydens die beoordelingsproses in berekening gebring.





