‘n Oproep tot ‘n nasionale dag van gebed vir vroue in 1887 in die VSA het met verloop van tyd na ander lande versprei en dit het tot die Wêreldbiddag vir Vroue gelei.
Mevv. A. Mc Gregor en U. Cook het in 1930 Suid-Afrika se eerste Wêreldbiddag vir vroue gelei. Dié gebedsnetwerk van Christenvroue in ongeveer 160 lande vind jaarliks op die eerste Vrydag in Maart plaas. Die tema vir dié jaar se Wêreldbiddag was: “Kom, Ek sal jou rus gee.” Die skrywersland was Nigerië.
Verlede Vrydag (6 Maart) het ongeveer 140 vroue en ‘n paar mans van die VGK, Anglikaanse kerk, Morawiese kerk en Apostoliese kerk in die parogiesaal van die Anglikaanse kerk byeengekom om Suid-Afrika se 96ste Biddag vir vroue te vier.
Eerwaarde Patty Edwards van die Holy Trinity Anglikaanse kerk in Caledon het aan Hermanus Times genoem: “Met die tema wat vanjaar uit Nigerië kom, is genoem hoe dit daar in hul land gaan en hoe enkelvroue soms sukkel om vir hul gesin te sorg.
“Die stapelvoedsel in Nigerië is rys en daarom het ons ‘n klein pakkie rys aan almal teenwoordig uitgedeel – juis om hulle daaraan te herinner dat omstandighede soms moeilik kan wees.
“Dit gaan daaroor dat ons as vroue moet weet wanneer ons deur moeilike omstandighede gaan, is die Here altyd daar om vir ons daai nodige rus te gee as ons Hom sal toelaat om dit vir ons te gee. Ons het nie nodig om alleen met iets te worstel nie – ons kan dinge na die Here bring, maar ons moet ook daar wees om mekaar te help en by te staan,” het Edwards gesê.
“Een van my uitdagings aan die groep was: Ons is nou as ‘n ekumeniese groep vroue hier bymekaar – hoekom kan ons nie ‘n vrouebeweging begin wat enkel-ma’s of vroue wat deur moeilike omstandighede gaan, bystaan nie – nie noodwendig finansieel nie, maar met die motivering dat wanneer ons bymekaarkom, kan ons oor die nodige dinge gesels om dié vroue emosioneel by te staan en op te help. Ons as mense moet altyd oop wees om die Here se genade te ontvang sodat wanneer ons uitgaan, ons daardie selfde genade vir iemand anders kan aanbied,” het Edwards afgesluit.





