Nasionale Biblioteekweek is landwyd van 20 tot 26 Maart gevier.
Theewaterskloof-biblioteekdienste het dié jaar ’n week lange promosietoer by al die biblioteke in die omgewing (Tesselaarsdal, Botrivier, Greyton, Villiersdorp, Riviersonderend en Caledon) aangebied om die belangrikheid van biblioteke en die noodsaaklike rol wat dié instellings in gemeenskappe vervul, te beklemtoon.
Vanjaar se tema was “Kragtige Stories”, wat op verskeie maniere uitgebeeld is.
Die week het Maandag (20 Maart) by die Tesselaarsdal-biblioteek op ’n feestelike noot met ’n vol program begin. Die bibliotekaresse Jonelda Williams sê: “Die biblioteekweek is hier by ons by die Tesselaarsdal-biblioteek geopen. Ons het verskeie aktiwiteite aangebied om die kinders te vermaak en ook om hul talente ten toon te stel.
“Ons het TikTok-danse aangebied, digkuns voorgelees en kragtige stories vertel en die plaaslike kinders het gesing.”
Woensdag het die brandweer met ’n groot brandweerwa daar aangekom en die opgewonde leerders van Tesselaarsdal Primêr vertel en gewys wat hul werk alles behels. Williams het alle rolspelers wat dié program moontlik gemaak het, bedank. “Sybil Lee, die hoof van Theewaterskloof se biblioteekdienste, was hier, Old Mutual en Nedbank het verteenwoordigers gestuur, wat verskeie pryse uitgedeel het. Ook my dank aan Ruben Taliard, Tesselaarsdal Primêr se skoolhoof, vir sy aandeel in die verrigtinge.”
Die plaaslike biblioteekpersoneel in Caledon het Maandag na die Uitsig-gemeenskap uitgereik deur boeke, drasakke en boekmerke aan van die inwoners uit te deel. Dat dié aksie baie geslaagd was, is bevestig toe ’n meisie opgewonde na Hermanus Times se verslaggewer aangehardloop gekom en opgewonde gesê het: “My ouma gaan my biblioteek toe neem sodat ek ook boeke kan uitneem en lees!”
Die Caledon-biblioteek het biblioteekweek Vrydagoggend op ’n vrolike wyse afgesluit deur koffie, tee en kolwyntjies in die arkade by ’n plaaslike supermark te verskaf.





