Die aanhoudende beurtkrag, wat Suid-Afrikaners nou in die gesig staar, het nie net ’n invloed op kleinsakeondernemings nie, maar verbruikers gaan ook onder die probleem gebuk aangesien kos vinniger bederf en ys- en vrieskaste asook televisies en ander elektriese toestelle op pak.
Versekeringsmaatskappye wil nie yskaste of die inhoud daarvan verseker as beurtkrag die skade veroorsaak nie.
Gereelde beurtkrag, veral fase ses wanneer die krag vir vier ure op ’n keer afgeskakel word – soms sommer twee keer per dag – veroorsaak enorme uitdagings vir huisgesinne en sakeondernemings in veral die Overberg.
Diegene wat nie battery-omsetters (invertors), sonkragstelsels of kragopwekkers kan bekostig om hul yskaste en vrieskaste tydens beurtkrag aan die gang te hou nie, loop die gevaar om hierdie noodsaaklike elektriese toerusting en die duur kos wat daarin koud gehou moet word, te verloor.
Santam het in Oktober 2022 in ’n persverklaring verduidelik die maatskappy het onlangs ’n styging van sowat 60% in eise vir skade weens kragstuwings (power surge) as gevolg van die toename in beurtkrag ervaar.
Die verklaring het ook verduidelik beurtkrag is nie ’n versekerbare risiko nie, maar versekeraars is wel bereid om elektroniese toestelle soos yskaste, vrieskaste en ook die inhoud daarvan te verseker as die skade weens ’n kragstuwing veroorsaak is.
Kragstuwings kan wissel van so min as een volt oor die drempelmaksimum van 169 volt tot duisende oortollige volt, soos wanneer weerlig kraglyne of ’n transformator tref.
Meer kragstuwings word ervaar wanneer beurtkrag toeneem.
Attie Blaauw, hoof van persoonlike onderskrywing by Santam, beveel aan ondernemings en individue moet liefs hul versekeringspolisse so gou as moontlik hersien om baie seker te maak hulle het die regte dekking, en dat hulle verstaan wat die vereistes en voorwaardes van die dekking is.
Van hierdie polisvereistes kan moontlik insluit dat jou vrieskas teen kragstuwings beskerm moet wees deur die gebruik van kragstuwing-beskermers, wat by die meeste hardewarewinkels beskikbaar is.
Nog ’n manier om yskaste teen skade te beskerm, is om dit uit te prop voor beurtkrag en dit weer aan te skakel nadat die beurtkrag verby is aangesien kragstuwings nie ’n toestel wat nie ingeprop is, kan beskadig nie.
Kragstuwing-beskermers en beskermde kragproppe kan jou vrieskas teen skade beskerm, maar nie noodwendig jou kos vars hou wanneer die krag vier ure op ’n keer afgeskakel is nie.
Om te verseker dat ’n yskas gedurende beurtkrag aangeskakel bly en op die regte temperatuur bly om kos vars en veilig te hou, is ononderbroke kragtoevoer (UPS) nodig. Dit is egter ’n werklikheid dat talle huishoudings in die Overberg nie hierdie soort toestel in hul woning kan bekostig nie.
Prof. Lucia Anelich, een van Suid-Afrika se bekendste en mees ervare voedselmikrobioloë en voedselveiligheidskenners asook die stigter van Anelich Consulting, verduidelik op haar webtuiste verkoelde kos is veilig mits die krag nie vir langer as vier ure af is nie, die yskasdeur toe gehou word en die yskas se temperatuur laag genoeg was, met ander woorde nie hoër as 4 °C, voordat die krag onderbreek is nie.
Kos wat gouer bederf, is ’n groot bekommernis vir plaaslike slaghuise en winkels, wat vars produkte soos groente, vrugte, kaas en melk verkoop, en sakelui kreun maandeliks onder reusagtige bykomende bedryfskostes weens beurtkrag.
Quintin de Melo, die bestuurder van Village Square Meat Market in Grabouw, sê beurtkrag het gewis ’n invloed op hulle, en volgens hom het hulle al ’n paar keer weens onbeplande beurtkrag ’n bloutjie geloop. “Nie net het ons al ons vleis verloor nie, maar ons moet dit nou letterlik dag vir dag vat. Vroeër het ons groot bestellings geplaas vir vleis, maar nou het ons dit baie verminder. Die beurtkrag het ook ’n uitwerking op produksie,” het hy gesê.
Ander winkels – veral kleiner ondernemings – kan nie hul deure oophou as beurtkrag geld nie, en met fase 5-beurtkrag, waar vier ure se kragonderbrekings geld, moet hulle hul deure toemaak. “Mense sukkel om te verstaan waarom ons ons deure tydens beurtkrag moet sluit, maar ons kan nie anders nie – óf ek moet baie geld vir ’n kragopwekker betaal en dan nog ekstra geld vir die brandstof, óf ons moet ons deure tydens beurtkrag toehou. Ons kan nie wen nie, ons sukkel om kop bo water te hou,” het ’n winkeleienaar gesê.
Hermanus Times het verlede week berig oor die gebruik van kragopwekkers en hoe dit ingevolge die Wes-Kaapse geraasbeheer-wetgewing 2013 beheer moet word.
“Dit is my kragopwekker en my huis – as die regering nie elektrisiteit aan ons kan voorsien nie, moet ons mos eie planne beraam. Hulle het nie die reg om dit ook nog van ons weg te neem nie,” het een leser laat weet.
Intussen het gerugte die ronde begin doen dat Eskom reeds besig is om aan ’n beurtkragrooster tot fase 16 te werk, maar dit kon nie bevestig word nie.




