Kaartjieverkope verloop flink vir die FynArts-kunstefees wat van 7 tot 17 Junie vir die 12de jaar in Hermanus aangebied word. Feesgangers het tot 1 April om kaartjies teen “Early Bird”-pryse te bekom.
Hierdie jaar se program sluit oudergewoonte nie net klassiekemusiek- konserte, kunsuitstallings, drama en dans in nie, maar ook ’n veelsydige reeks aanbiedinge, gesprekke en boekbesprekings, asook werksessies, wynproeë en sjefdemonstrasies.
Die banketsaal van die munisipale ouditorium word hierdie jaar benut as die “hub” van FynArts, waar feesgangers tussen feesgeleenthede saam met vriende bymekaar kan kom en verversings kan geniet. Die ouditorium is ook die plek waar die meeste van die aanbiedings, besprekings, musiekkonserte, toneel- en dansuitvoerings plaasvind. Ander lokale wat benut word, is onder meer die NG kerk in Hermanus, Windsor-hotel, Marine Hotel, die Hermanus-gholfklub, Curro Hermanus, die United kerk en die NG kerk in Onrus.
Die programboekie is beskikbaar by uitgesoekte afsetpunte in Hermanus, insluitend al die kunsgalerye, die Hermanus-biblioteek, die toerismekantoor en die FynArts-galery, sowel as in Kaapstad, op die Tuinroete en elders in die land. ’n Lys afsetpunte kan gevind word via ’n skakel op die webtuiste hermanusfynarts.co.za. . Vir enige navrae, kontak 060 957 5371 of admin@hermanusfynarts.co.za





