Ná baie jare het Caledon uiteindelik weer ’n aktiewe belastingbetalersvereniging.
Baie mense is heel moontlik nie bewus van wat presies ’n belastingbetalersvereniging doen nie, en daarom het Hermanus Times met Deon Kruse, voorsitter van die Caledon-belastingbetalersvereniging (CBBV), gesels om ’n bietjie meer uit te vind en ook hoekom dit belangrik is vir mense om by dié vereniging aan te sluit.
“Ons grondwet sê wat ons hoofdoel is, en dit is om basies samehorigheid van die gemeenskap te bou, hulle sover te kry om te begin kyk en belang te stel in wat aangaan,” sê Kruse.
Kruse sê verder:” Aan die einde van die dag moet ons probeer om die munisipaliteit te kry om te doen wat ons graag wil sien moet gebeur; dat ons almal op dieselfde bladsy is in terme van ’n mooi dorp, ’n dorp wat vooruitgaan, ’n dorp wat min misdaad het, ’n dorp waarvan die infrastruktuur mooi en netjies is en onderhou word. Ons moet saam beweeg en saam met mekaar werk om vorentoe te gaan pleks van die antagonisme wat heeltyd plaasvind. As jy jou mond oopmaak, dink mense jy val hulle aan. Jy val hulle nie aan nie; jy wys net sekere goed uit en is besig om jou regte, soos in die Grondwet en die wet op munisipale stelsels en alle ander wetgewing vervat is, uit te oefen,” sê hy. “In ons skrywes aan die munisipaliteit wys ons sekere punte uit en bied ook moontlike oplossings aan.
“Ons wil hulle kry om saam met ons te werk – ons is nie die vyand nie.”
Volgens Kruse moet die munisipaliteit in belang van die gemeenskap optree.
“Die munisipaliteit moet die beste finansiële oplossings kry en die riglyne volg, en dit moet gedoen word deur konsultasie met die gemeenskap. Hulle moet ’n atmosfeer skep waar ons, die burgers, met hulle kan kommunikeer – nie as vyande nie, maar om as normale mense met hulle te kan praat. Op die oomblik is daar net antagonisme.”
Kruse moedig mense aan om by die CBBV aan te sluit. “Sluit aan sodat hulle kan sien wat ons doen. Ons moet op ons regte aandring en dit uitoefen.”. Ledegeld beloop R100 per jaar met ’n eenmalige registrasiefooi van R20. Bel Kruse by 073 108 4365 vir nog inligting.





