Die polisie in Struisbaai is op soek na ’n verdagte wat ’n 82-jarige vrou in haar huis aangerand en beroof het.
Die bejaarde vrou het volgens berigte Saterdag 25 Mei van haar inkopies af teruggekeer toe ’n onbekende man haar in die motorhuis aangeval het.
Brig. Donovan Heilbron, adjunk-kommissaris van die polisie in die Overberg-distrik, sê alles dui daarop dat die aanvaller deur die oop motorhuisdeur toegang tot die perseel verkry het.
’n Familielid wat die vrou wou besoek, het op die beseerde bejaarde afgekom waar sy onder bebloede linne in die motorhuis gelê het.
“Die slagoffer het kopbeserings opgedoen. Sy is na die hospitaal vervoer en is in ’n stabiele toestand. In hierdie stadium is slegs ’n selfoon as gesteel aangemeld,” aldus Heilbron.
Hy het die grusame aanval op die slagoffer ten sterkste veroordeel en gevra dat die gemeenskap enige inligting, hoe gering hulle dit ook al mag ag, aan die polisie moet deurgee. “Enigeen wat in die omgewing woon en dalk kringtelevisie-beeldmateriaal van veiligheidskameras het of enigeen wat ’n verdagte man in die gebied gesien het, moet dit asseblief rapporteer sodat ons hierdie gewetenlose misdadiger wat ’n brose bejaarde so wreed aangeval het, so gou moontlik in hegtenis kan neem,” was sy pleidooi.
Die polisie ondersoek ook ’n moord wat Saterdag op ’n plaas buite Grabouw gebeur het. Volgens Heilbron het die slagoffer aan ’n skietwond beswyk.
In ’n aparte voorval is ’n vrou oor die naweek in Grabouw dood nadat onbekende mense haar met steekwonde by die Grabouw-daghospitaal afgelaai het. Enigeen met inligting oor die voorval kan die Grabouw-polisie kontak, het Heilbron gesê.



