Inwoners van Genadendal het ’n jong man wat ’n 85-jarige bejaarde aangeval en beroof het, aangekeer en aan die polisie oorgegee.


’n Man van Genadendal het Maandag in die hof verskyn nadat hy na bewering ’n 85-jarige man in sy huis aangeval, hom met ’n kussing probeer versmoor en van sy geld beroof het.

Die verdagte is glo kort daarna deur lede van die gemeenskap aangekeer terwyl hy na bewering nóg ’n misdryf wou pleeg, en is aan die polisie oorhandig.

Die Genadendal-polisie het die gemeenskap vir hul optrede bedank.

Sersant Abigail Naidoo, ’n polisiewoordvoerder vir die Overberg-distrik, sê die 85-jarige slagoffer van die huisroof het na bewering omstreeks 02:00 Sondag (7 April) wakker geword en die verdagte, wat aan hom bekend is, binne sy huis opgemerk.

“Toe die verdagte sien die huiseienaar is wakker, het hy hom na bewering voor die bors gegryp en ’n kussing oor sy gesig gedruk.

“Die slagoffer het probeer terugbaklei, maar sy aanvaller het daarin geslaag om die slagoffer van sy geld, wat onder die laken versteek was, te beroof. Die verdagte het blykbaar te voet van die toneel gevlug.”Volgens Naidoo is slegs die slagoffer se heup, waar die verdagte hom na bewering geskop het, effens beseer.

“Inwoners het volgens die polisiever­slag die verdagte aangekeer toe hy na bewering nog ’n misdaad gepleeg het en hom aan die polisie oorhandig,” sê Naidoo.

“Die slagoffer het later die gemeenskapsdienssentrum besoek om die misdaad aan te meld.” Die 25-jarige verdagte, wat in dieselfde straat as sy 85-jarige slagoffer woon, het Maandag 8 April op aanklag van huisroof in die Caledon-landdroshof verskyn.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article