Die EPWP-werkers wat die Myddleton-begraafplaas skoon hou.Foto: Mitzi Buys


Die kwaadwillige beskadiging van begraafplase is deesdae in baie dorpe aan die orde van die dag. Dit is skokkend en onaanvaarbaar, maar ’n verwaarloosde begraafplaas is net eenvoudig hartseer, want dit wys dat inwoners óf weggetrek het óf eenvoudig nie omgee oor hul geliefdes se laaste rusplek nie.

Myddleton se begraafplaas, wat aan die St. Michael & All Angels-Anglikaanse kerk behoort, is erg verwaarloos en oorgroei, maar gelukkig nie gevandaliseer nie. Wat bemoedigend is, is dat ’n daadwerklike poging aangewend word om dié begraafplaas weer skoon en netjies te kry.

Roderick Carelse, kapelvoog van St. Michael & All Angels, sê: “Ons is besig om die onkruid en indringerplante te verwyder en om die grafte ’n bietjie op te kikker. Ons het by die voorste nuwe gedeelte begin, maar het nog heelwat werk om te doen – veral in die ou gedeelte agter, wat heeltemal vol is.

“Daar is geen omheining nie en in plaas daarvan om mure rondom die begraafplaas te bou of draad te span, wat in elk geval net gesteel sal word, dink ons daaraan om walle rondom te gooi,” sê Carelse.

Carelse sê verder: “Ons wil dit onder die gemeente se aandag bring dat ons dit so skoon as moontlik moet hou, want op die oomblik is dit regtig erg verwaarloos. Baie mense se families woon nie meer in Myddleton nie, maar van hulle kom darem so af en toe ’n draai maak en vra dat ons help.

“Ons vra dat die gemeenskap na vore kom. Ons glo as elke familie wat ’n geliefde daar het, net die grafte rondom ook in stand hou, dit baie beter sal gaan om die res van die begraafplaas skoon te hou. Dit is ’n boodskap wat ons gedurig uitstuur. Sommiges slaan ag daarop, maar party families worry ook net nie.”

Carelse het ook gesê hy is dankbaar vir die TWK-munisipaliteit se hulp, wat ’n EPWP-span daar het, wat ’n groot bydrae lewer om die begraafplaas skoon te kry.

Christo Willemse, een van die EPWP-werkers, sê: “Ek is van Myddleton en dit voel goed om te sien hoe ons met die skoonmaak vorder. Party mense kom prys ons elke nou en dan oor die werk wat ons doen.”

Tydens Hermanus Times se besoek aan die begraafplaas het Michael Jackson, wat baie jare in Somerset-Wes gewoon en gewerk het, maar nou weer in Myddleton woon, gewapen met ’n snoeiskêr en ander tuingereedskap daar opgedaag om sy oorlede ma, Vera Jackson, se graf skoon te maak.

“Ek was ’n paar maande gelede hier en dit het erg gelyk, met lang gras en onkruid. Ek was nou baie verbaas om dit so mooi skoon te sien. Ek wou juis die graf kom skoonmaak vir Moedersdag. Hier woon baie mense, en die gemeenskap moet meer betrokke raak,” sê Jackson. “As elkeen sy kant bring en ’n handjie bysit, kan dit weer ’n mooi begraafplaas wees waarop ons trots kan wees.”

Indien iemand wil help om die begraafplaas skoon te maak, kan hulle Roderick Carelse by 083 505 1020 bel om reëlings te tref.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article