Toeskouers by die Weskus-lugskou asook Facebook-gebruikers was Saterdag (22 Maart) geskok oor die Impala-vliegtuig wat op die terrein van die Saldanha-lughawe neergestort en in vlamme uitgebars het. Video’s oor die noodlottige ongeluk is minute ná die voorval op sosiale media gedeel en ‘n mens kan duidelik hoor hoe geskok die omstanders oor die voorval was.
Die vlieënier, James O’Connell van Bredasdorp, is op slag dood. Volgens Elowayne Gouws van West Coast Medical Rescue was noodpersoneel binne ‘n minuut nadat die vliegtuig neergeval het, by O’Connel, maar hy was reeds dood.
Sisa Majola van die Burgerlugvaartowerheid (SACAA) het die ongeluk bevestig. Dit het omstreeks 14:30 gebeur. Majola het gesê SACAA gaan nou saam met veiligheidsbeamptes by die lugskou werk om inligting in te samel om die oorsaak van die ongeluk te bepaal. “ ’n Voorlopige verslag sal oor 30 dae op die SACAA se webwerf gepubliseer word.”

O’Connel was ‘n uiters ervare vlieënier wat tydens sy dood ‘n hoofvlieginstrukteur en toetsvlieënier by die Toetsakademie van Suid-Afrika (TFASA) was. Die TFASA het in sy verklaring gesê dit is met diep hartseer dat hy die tragiese verlies van sy gewaardeerde kollega en vriend bevestig. “James was ‘n legende in die lugvaartbedryf – ‘n bekwame toetsvlieënier met meer as 36 jaar vliegervaring, onder meer langer as 25 jaar ondervinding in eksperimentele vlugtoetswerk. Hy het nie net gedien as die hoofvlieginstrukteur nie, maar was ook die hoof van die toetsvlieënierskool by TFASA. Verder het hy ‘n instrumentele rol in die vorming en bevordering van toetsvlieëniers en vlugtoetsingenieurs gespeel. James het die TFASA-missie langer as 10 jaar gevolg en gehelp om die liggaam se visie te vorm,” het TFASA in sy persverklaring gesê. Die persverklaring het ook verder bevestig dat die omstandighede rakende die oorsaak van die noodlottige ongeluk tans nie beskikbaar is nie en dat ‘n formele ondersoek van stapel gestuur is. “Die TFASA werk nou saam met Suid-Afrikaanse Burgerlugvaart en Air Show South Africa.”
Die president van TFASA, Jean Rossouw, het gesê: “James se heengaan is ‘n geweldige verlies vir die vlieggemeenskap. Hy was nie net ‘n merkwaardige vlieënier nie, maar ook ‘n leermeester en vriend wie se impak vir jare by ons sal bly.”
Die organiseerders van die lugskou het ook hul medelye oor die voorval uitgespreek. “O’Çonnell het ‘n roetine-vertoning uitgevoer om die vermoë van die Impala Mark 1 uit te beeld. Dié vliegtuig is ‘n geliefde oorlogsvliegtuig wat ‘n historiese betekenis vir menige Suid-Afrikaner het. Die vertoning was ‘n groot oomblik vir besoekers aangesien die Impala vir jare nie by lugskoue gesien is nie,” het die organiseerders in ‘n persverklaring gesê.
Die lugskoukommentator, Brian Emmenis, wat die gebeurtenis aanskou het, het gesê: “Hy het die vliegtuig laat rol en toe hy uit daardie roetine kom, kon ‘n mens duidelik sien hy is besig om hoogte te verloor. Hy het in die rigting van die vliegtuigstaanplekke gevlieg en neergestort. Daar was ook geen teken dat hy probeer het om homself uit te skiet nie.”





