Hy red gereeld restaurante met sy televisieprogram In die sop, en nou het die ikoniese Bertus Basson sy vlerke na die Overberg gesprei.

Paul Clüver buite Grabouw het met hierdie bekende restaurateur kragte saamgesnoer om ’n nuwe restaurant op die been te bring. Die restaurant gaan BLOEM heet en open sy deure op 22 Oktober.

“Ons kan nie wag om die restaurant te open nie. Die nuwe uitdaging, wat deur Carla Burger van die Bertus-span gelei gaan word, beloof iets in elkeen se smaak,” het hulle in ’n persverklaring bekend gemaak.

Volgens die persverklaring gaan die spyskaart uit seisoenale geregte bestaan, wat deur die plaas se groente en vrugte geïnspireer is.

“BLOEM sal ook vir ontbyt en middagetes van Dinsdae tot Sondae oop wees en die hele familie is welkom. Ons is ook trots daarop om te sê daar is ’n speelplek vir kinders en die hele gesin kan nou by ons kom ontspan,” het die persverklaring gelui.

Die wynlys gaan nie net uit Paul Clüver-wyne besaan nie, maar ook uit ander uitgesoekte wyne uit die Elgin-vallei.

Volgens Basson is hy tevrede om die leisels aan Burger oor te gee aangesien sy al vir ses jaar by hom werk en haar potensiaal al by verskillende van Basson se restaurante soos Overture, Eike, Spek&Bone en CHORUS gewys het.

“Carla is baie talentvol en sy fokus ook op seisoenale varsprodukte wat sy in haar geregte inwerk,” het Basson gese.

Volgens Basson is BLOEM ’n baie gepaste naam vir die restaurant.

“Bloem beteken blomme in Nederlands en dit is baie gepas vir die mooi streek wat in die lente oortrek is met die bloeisels. Daar is selfs ’n appelbloeisel in ons kenteken en ons is baie trots daarop. Bloeisels en blomme kondig ook die nuwe seisoen en lewe aan, wat vir ons baie beteken.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article