Daar is min dinge so lekker soos ’n plattelandse kerkbasaar en as daar twee basaars op opeenvolgende naweke is, is dit sommer ’n dubbele lekkerte.
Die Caledon NG Moedergemeente het Saterdag 2 Maart sy jaarlikse basaar gehou. Die formaat van die basaar was anders hierdie jaar met meeste van die stalletjies buite en onder ’n groot tent, waar besoekers ook gemaklik kon sit en luilekker kuier. Die kerksaal is omskep in ’n speelplek vir kinders waar verskeie aktiwiteite vir hulle aangebied is. Vanjaar het die basaar ook ’n tweede gedeelte aangebied wat in die aand plaasgevind het met ’n wynproe van omliggende wynplase asook ’n filmvertoning.
Willem Lubbe, mede-leraar van die Moedergemeente sê: “Dit was ’n besonderse geleentheid. Ons het besluit ons wil dit ’n bietjie groter en meer van ’n gemeenskapsfees maak om die gemeenskap ook op ’n manier meer te betrek.
“Ons gemeente wil graag hoop en liefde aangee aan ons gemeenskap en ons wil graag positiewe energie uitstraal na buite en dit is hoekom ons basaar hierdie jaar ’n bietjie van ’n ander kleur gehad het,” sê Lubbe.
Hy noem dat hulle baie positiewe terugvoer gekry het, veral oor die tent en die gevoel wat daarmee geskep is. “Daar was so baie jong mense wat betrokke was en met die reëlings gehelp het. Dít en ook hoe baie die kinders dit geniet het, en die feit dat hulle veilig was, het mense opgeval,” sê Lubbe. Hy noem ook dat alles vroeg uitverkoop was omdat daar baie meer voete was as wat hulle verwag het.
Die Greyton-kerkbasaar, wat op 9 Maart gehou is, is beslis een van die lekkerste basaars in die Overberg en die aantal mense van omliggende dorpe wat dit bygewoon het, het dit bevestig. Dit was opmerklik om te sien hoeveel Caledonners daar was.
Dit was ds. Hanli Grové se tweede basaar vandat sy dominee in Greyton is. Sy sê: “Hier in Greyton hou ons nog outydse basaar. Dit was ’n wonderlike geleentheid met almal van oor die kontrei heen wat ons kom ondersteun het en daarvoor is ons baie dankbaar. Alles het so vinnig uitverkoop hierdie jaar. Dit is wonderlik en dit is net die genade van die Here.”





