Ds. Gerome Haupt, Michelle Papier, Natalie Eksteen, Irene Cupido en Rayvon Joemath (voor) vier Badisa Caledon se 21ste bestaansjaar.Foto: Mitzi Buys


Badisa, ’n maatskaplike ontwikkelingsor­ganisasie wat in 2003 gestig is, vier vanjaar sy 21ste bestaansjaar. Badisa bestaan tans uit 134 takke (of programme) met meer as 300 werknemers en bedien jaarliks meer as 700 000 mense.

Die Sinodale Kommissie vir Diens van Barmhartigheid (SKDB) en die Sinodale Kommissie vir Diakonale Dienste (SKDD) van die NG kerk (Wes-Kaap) en die VG kerk (Kaapland) het in 2003 geamalga­meer om een organisasie te vorm. Die naam Badisa is ’n samestelling van die woorde “Barmhartigheid, Diens/Diakonaat, Saam”.

Ds. Gerome Haupt van die VG kerk in Caledon noem aan Hermanus Times: “Die rol wat Badisa vertolk, is ’n rol wat al in die vroeë 90’s hier in Caledon en omliggende gebied gevestig is. Voor die amalgamasie was ons die Caledon-gemeenskapsdiens. Dienslewering het basies dieselfde gebly. Ons lewer diens op drie vlakke – die Sonskyn-kleuterskool, die maatskaplike ontwikkelingsprogram by die kerkkantoor en dan die Tafelronde Herberg wat ouer mense bedien. Die diens aan ouer mense, kinders en gesinne is in ’n mate ’n geestelike bediening omdat Badisa ’n organisasie is wat uit die Christelike kerke ontstaan het, maar ons lewer meer aktiewe en praktiese hulp. Ons probeer die lewensomstandighede van mense verbeter. Dit is nie ’n soort armsorg nie, maar eerder om mense te ontwikkel om iets vir hulself te doen.”

Volgens Haupt raak die behoefte al groter en hulpbronne al skaarser, en dit maak alles moeiliker. “Op die oomblik moet ons vir die gemeenskap baie dankie sê vir hul betrokkenheid, want die gemeenskap neem eienaarskap, veral as dit by die Herberg kom, en daarvoor is ons baie dankbaar,” sê Haupt.

Irene Cupido, bestuurder van die Tafelronde Herberg, sê: “Ons het besef ’n behoefte bestaan om ouer mense herberg te bied en ’n veilige omgewing vir hulle te skep, en dit is hoe Tafelronde Herberg ontstaan het. Badisa beteken vir ons en vir die gemeenskap ontsettend baie.”

Rayvon Joemath, projekkoördineerder van Badisa in Caledon, sê: “Ons het in Junie 2023 statutêre dienste aan die departement van maatskaplike dienste oorgegee en ons verwys alle gevalle na hulle.

“Ons doen projekte en bied programme by skole aan wat positiewe gedrag, toekomsbeplanning en lewensvaardighede insluit. Ons werk ook in die gemeenskap met aksiekomitees vir vrywilligers om ons te help.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article